Waarskuwing: Skryf neer jou hekmotor se reeksnommer
Die polisie waarsku dat hekmotordiefstal toenemend 'n groot probleem is.
Hekmotordiefstal word toenemend ’n probleem met misdadigers wat woongebiede en besighede teiken.
Die polisie het op 1 Junie ‘n groot deurbraak gemaak toe daar op agt gesteelde hekmotors in Rustenburg op beslag gelê is, en ‘n 34-jarige man gearresteer is.
Wanneer gesteelde eiendom teruggevind word, veral ook soos in die geval van hekmotors, is dit moeilik om eienaarskap te bewys. Parys SAPD en Parys GPF het daarom mense die afgelope week aangeraai om hul hekmotors se reeksnommer neer te skryf en veilig te bewaar.
Charnel Hattingh, Groephoof van Bemarking en Kommunikasie by Fidelity ADT, sê ‘n florerende mark vir hekmotoronderdele dryf die diefstal van hekmotors aan.
“Gesteelde hekmotors word dikwels uitmekaar gehaal, met komponente soos batterye en ratkaste wat individueel verkoop word, of as volledige eenhede aan niksvermoedende huiseienaars herverkoop word,” verduidelik sy.
’n Kommerwekkende taktiek wat ook deur misdadigers gebruik word is om die hekmotor se outomatiese funksie te deaktiveer om maklike toegang tot eiendomme te verkry, sê Hattingh.

Hoe om jou hekmotor en eiendom te beskerm:
• Maak seker jou hekmotor is te alle tye binne ’n geslote staalomhulsel of -raamwerk beveilig. Onbeskermde motors—veral dié naby palissade-tipe hekke—is maklike teikens
• Installeer 180-grade perimeterstrale om beweging naby jou hek te monitor
• Installeer anti-lig-hakies en sweis ’n plat staaf aan die hekrak om geforseerde oplig te voorkom
• Kombineer meganiese beskerming met elektroniese oplossings wat waarskuwings stuur wanneer daar daarmee gepeuter word
Hattingh beklemtoon dat jou elektriese hek as ’n kritieke eerste verdedigingslinie moet dien.
“Aktiveer vroeë waarskuwingstelsels soos tuinstrale of elektriese heinings, en maak seker dit is aan gewapende reaksiedienste gekoppel. Ons almal moet ’n rol speel om misdaad te verminder deur dit moeiliker vir misdadigers te maak om te werk.”



