Local newsNews

Mediese fonds lede: Kry jou papierwerk in orde voor die belastingseisoen

Belastingkrediete stel belastingbetalers in staat om sekere mediese uitgawes wat hulle self betaal het en wat nie deur hul mediese fonds gedek is nie, terug te eis.

Lidmaatskap van ’n geregistreerde mediese fonds beskerm nie net jou gesondheid nie – dit bied ook ’n ingeboude belastingvoordeel. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) betaal ’n gedeelte van jou mediese fondsbydraes terug deur middel van ’n stelsel van belastingkrediete.

Met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se outomatiese belastingassesserings wat op 1 Julie begin, en die belastingseisoen wat op 13 Julie open, deel Medshield nuttige riglyne oor hoe om die meeste uit jou mediese fondsbelastingvoordeel te haal.

Wat is mediese fondsbelasting?

Dit is nie ’n afslag van jou mediese fonds nie – dit is ’n belastingkorting van SARS omdat jy aan ’n geregistreerde mediese fonds behoort.

Hierdie voordeel geld ongeag watter mediese fonds jy gebruik of hoeveel jou premie beloop. Dit word uitsluitlik bereken volgens die aantal mense wat op die fonds gedek word.

SARS onderskei tussen twee maniere waarop belastingvoordele vir mediese uitgawes geëis kan word:

1. Belastingkrediet vir Mediese Fondsbydraes (Medical Scheme Fees Tax Credit – MTC)
Hierdie belastingkrediet is beskikbaar aan belastingbetalers wat tot ’n geregistreerde mediese fonds bydra. Die voordeel word bereken volgens die aantal afhanklikes wat gedek word.

2. Addisionele Mediese Belastingkrediet (Additional Medical Tax Credit – AMTC)
Hierdie krediet stel belastingbetalers in staat om sekere mediese uitgawes wat hulle self betaal het en wat nie deur hul mediese fonds gedek is nie, terug te eis.

Vir die belastingjaar van 1 Maart 2025 tot 28 Februarie 2026 is die maandelikse belastingkrediete soos volg:

  • R364 vir die hooflid;
  • R364 vir die eerste afhanklike; en
  • R246 vir elke bykomende afhanklike.

Moet ek dit self eis, of gebeur dit outomaties?

Dit is waar baie mense verward raak. Daar is twee belastingkrediete en elkeen werk anders.

1. Belastingkrediet vir Mediese Fondsbydraes (MTC)

Hierdie krediet word outomaties bereken en toegepas. Indien jou mediese fondsbydraes deur jou werkgewer van jou salaris afgetrek word, word die krediet maandeliks teen jou LBS (PAYE) verreken sonder dat jy iets hoef te doen.

2. Addisionele Mediese Belastingkrediet (AMTC)

Hierdie krediet dek mediese uitgawes wat jy uit jou eie sak betaal het en wat nie deur jou mediese fonds vergoed is nie.

Sommige mediese fondse sluit hierdie uitgawes op jou belastingsertifikaat in. Indien jy egter mediese rekeninge direk aan ’n gesondheidsorgverskaffer betaal het, moet jy self die uitgawes bereken en tydens jou belastingopgawe eis.

Moenie belastingkrediete vir gapingsdekking en mediese versekering verwag nie

Hoewel gapingsdekking en mediese versekering deur ’n finansiële diensverskaffer onderskryf word, bied dit nie dekking as ’n geregistreerde mediese fonds ingevolge die Wet op Mediese Skemas nie.

Dit beteken die premies wat jy daarvoor betaal, kwalifiseer nie vir die hoofbelastingkorting nie.

Dit kan egter steeds voordelig wees indien jou gapingsdekking nie die volle mediese rekening betaal het nie en jy self ’n gedeelte moes betaal. Daardie bedrag kan moontlik as ’n kwalifiserende mediese uitgawe vir die tweede belastingkrediet kwalifiseer, mits dit aan SARS se vereistes voldoen.

Mediese fondslede: Só maak jy seker jy is gereed

Deur jou mediese uitgawes en mediese fondsbydraes vir die tydperk 1 Maart 2025 tot 28 Februarie 2026 na te gaan, kan jy beter beplan en verseker dat jy geen belastingvoordele misloop nie.

  1. Vra of laai jou mediese fondsbelastingsertifikaat af en maak seker jou begunstigde-inligting is korrek.
  2. Bevestig dat al jou afhanklikes op jou mediese fonds geregistreer is. Elke afhanklike verhoog jou maandelikse belastingkrediet; as iemand ontbreek, kan dit die bedrag wat jy terugkry verminder.
  3. Bewaar alle fakture en kwitansies vir mediese uitgawes wat jy self betaal het op ’n veilige plek en maak seker die besonderhede daarop is korrek.

As jy dit nou doen – voordat die belastingseisoen besig raak – het jy een minder bekommernis wanneer die indieningstydperk op 13 Julie 2026 begin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button