Local newsNews

VVA se nasorgsentrum-droom word bewaarheid

Die nasorgsentrum 'n manier waarop VVA wil teruggee aan die gemeenskap.

Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) in Parys se droom om ‘n nasorgsentrum op die Chrissanloo-perseel te vestig, is bewaarheid, danksy ‘n trustskenking wat vir dié doel bewillig is.
Bouwerk op die perseel sal vandeesweek begin, en die sentrum sal sy deure oopmaak wanneer die skole in Julie heropen.


Die sentrum sal deur twee afgetrede onderwysers, wat as vrywilligers diens doen, bedryf word, en sal 20 kinders van graad R tot graad 3 kan akkommodeer wie se ouers andersins nie ‘n nasorgfasiliteit kan bekostig nie.


Die stap volg nadat VVA byna ‘n jaar gelede Chrissanloo as Huis van Veiligheid geopen het as ‘n tydelike hawe vir kinders wat deur maatskaplike werkers noodgedwonge uit hul ouerhuise verwyder moet word weens verwaarlosing of mishandeling.


Volgens Sanette Boonzaier was die spasie vir ‘n nasorgsentrum reeds beskikbaar en is die behoefte in die gemeenskap geïdentifiseer.

Hoewel fondsinsamelingsprojekte soos VVA se jaarlikse Boete-, boei- en betaal-projek, die nou reeds bekende Blokkie-projek, die Musiek Bingo-aand, ‘n gholfdag wat vir 27 November beplan word, sowel as die maandelikse verkope van onder meer worsbroodjies en vetkoek help om vele noodsaaklike dienste aan die gang te hou, was die trustskenking ‘n groot hupstoot om die nasorgdroom te bewaarheid, sê Boonzaier.


“VVA ontvang slegs minimale staatsubsidie, wat alleen nie genoeg is om in die groeiende nood van die gemeenskap te voorsien nie,” sê sy.


Net om Chrissanloo Huis as huis van veiligheid in te rig, het R600 000 gekos, afgesien van die donasies wat ontvang is. Daar is boonop steeds die maandelikse bedryfskoste van die huis, waar alles wat in ‘n normale huishouding nodig is vir die kinders voorsien moet word.

Omgeehande en harte het hierdie tuin en speelplek by Chrissanloo huis moontlik gemaak. Foto: LIezl Scheepers
Omgeehande en harte het hierdie tuin en speelplek by Chrissanloo huis moontlik gemaak. Foto: LIezl Scheepers


Skenkings vir klere vir seuns en dogters van drie tot 14 jaar, sowel as meubels, linne, breekware en kruideniersware, asook geldelike bydraes, word steeds verwelkom. Dieselfde geld vir Lerato Veiligheidshuis, wat in Maart vanjaar na Parys geskuif het nadat ‘n huis bekom is.


Benewens statutêre, maatskaplike en ondersteuningsdienste wat deur VVA gelewer word, word daar maandeliks by die sopkombuis en met kospakkies in mense, en gesinne se onmiddellike nood voorsien.


Die sakpaswinkel help met klere vir dié wat dit nodig het en vul terselfdertyd inkomste aan, terwyl VVA se dorp-skoonmaak-inisiatief, deur middel van koskoepons, daagliks 37 mense van ‘n voedsame maaltyd voorsien en terselfdertyd die dorp se strate skoonhou.


Daar word ook daagliks sowat 100 etes by VVA se sopkombuis aan hulle in nood uitgedeel. Dan word daar ook nog na bejaardes uitgereik waar moontlik.


“Elke bydrae wat VVA ontvang, maak ‘n daadwerklike verskil vir dié wat minder het,” sê Boonzaier. “Daarom is die nasorgsentrum ‘n manier waarop VVA wil teruggee aan die gemeenskap.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button