Polisie soek persoon van belang ná verkragting in Tumahole
Volgens polisiewoordvoerder Josephine Rani het die voorval na bewering op Maandag, 1 Junie, omstreeks 02:00 plaasgevind.
Die polisie in Tumahole doen ‘n beroep op die publiek om te help om ‘n persoon van belang op te spoor wat moontlik kan help met die ondersoek na ‘n verkragtingsaak wat vroeg in Junie plaasgevind het.
Volgens polisiewoordvoerder Josephine Rani het die voorval na bewering op Maandag, 1 Junie, omstreeks 02:00 plaasgevind.
Die slagoffer was glo op pad van ‘n plaaslike taverne in Old Location na haar kêrel se woning in die Tokoloho-gedeelte toe sy deur ‘n onbekende man aangespreek is. Die man het volgens berigte gesê hy is ook op pad na Tokoloho, waarna hulle saam verder gestap het.
“Die verdagte het na bewering ‘n mes uitgehaal en die slagoffer na bosse in die Tladi-gedeelte gedwing waar hy haar na bewering verkrag het voordat hy haar van R200 kontant beroof het,” het Rani gesê.
Die verdagte word beskryf as ‘n donkerkleurige man van ongeveer 1,5 meter lank. Hy het na bewering ‘n swart trui, swart jeans en ‘n swart-en-wit gesigmasker gedra. Volgens die polisie het hy die slagoffer ná die voorval tot by die Tokoloho-gedeelte vergesel.
Die voorval is by die Tumahole SAPD aangemeld, waarna ‘n ondersoek van stapel gestuur is.
Die Tumahole-eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe versoek enigiemand wat die persoon op die saamgestelde identikit herken of inligting het wat die ondersoek kan help, om speursersant Noloyiso Masondo by 082 049 5208 te skakel. Inligting kan ook anoniem deurgegee word via Crime Stop by 08600 10111 of die MySAPS-toep.



