Local newsNews

Heldersig-tragedie: ‘Voor my oë sien ek net die vlamme – en vir Mela’

Vier woonstelle is in die brand vernietig en het 'n 77-jarige vrou haar lewe verloor in die tragedie wat hom Sondag afgespeel het.

In die as van die verwoesting staan Dries en Susan Botha se koffiebekers nog op die stoep. Langsaan op ‘n tuinmuurtjie lê ‘n bril en ‘n bos sleutels – swart van die roet. Op die grasperk- twee verskroeide brilkassies.

‘n Leeftyd se onthou-goed verwoes in die enkele ure van daardie Sondag wat so gewoon begin het met ‘n koppie koffie.

Kort tevore het Hantie Guthrie nog met haar dogter op die foon gesels. Maar net na 10:00 Sondag, 5 Julie het die rustigheid by die Heldersig-woonstelle in Noorderstraat, Parys, in ‘n chaos van tragedie verander.

Vivian Guthrie onthou hoe ‘n jong seun kom sê het hy ruik rook. Nog een van die bure, Julius Noah, het om die draai gekom en kom sê daar is ‘n vuur. Die volgende oomblik was die pandemonium. Gasbottels wat ontplof, gille, en paniek. Van woonstel nr 10 het die brand in oomblikke versprei na die aangrensende woonstelle. Vier wooneenhede wat in die see van vlamme verswelg en gestroop is van alles wat daarin was.

Die 77-jarige Toetsie van Wyk het in die brand gesterf. Haar liggaam is later in haar woonstel gekry.

Van oral het mense gekom om te help. Engelhande wat meedoënloos teen die vlamme baklei het en water gegee het vir vuurvegters. Vensters wat met ‘n graaf stukkend geslaan is in die hoop om ‘n lewe te kon red. Hande wat gevat is om binne ure bymekaar te maak, te help om te voorsien in die nood van hulle wat alles verloor het. Hulle vir wie ‘n hoofstuk afgesluit is, maar vir wie die onthou ingebrand is in hul geheue – vir altyd.

In Vivian se oë lê die trane vlak oor Mela – sy en Hantie se Pekanees hondjie. Hantie het nog daarin kon slaag om die katte en Mitzi, die ander Pekanees uit die huis te kry, maar die vermoede is dat Mela in die brand omgekom het toe Hantie terug is in die huis om te probeer om van hul dokumente en haar Bybel te kry.

Mela is sedert Sondag nog nie weer gesien nie.

“Al kan ek net haar bandjie kry, kan ons afsluiting kry,” sê Vivian.

Vivian met een van die Pekanees hondjies, Mitzi, wat betyds gered kon word. Foto’s: Liezl Scheepers

“Ons is nie sentimentele mense nie. Maar hierdie is ‘n ding wat ek nooit in my lewe weer wil sien nie. Voor my oê sien ek die vlamme. Ek sien vir Mela.”

“Daar staan die gasstoof, die generator, alles uitgebrand. Vier jaar wat ons hier gebly het wat net weg is,” sê Vivian.

Toe hy en Hantie destyds die huis gekoop het, het hulle alles oorgedoen. Maar selfs die gereedskap wat hy oor jare bymekaar gemaak het en waarmee sy vaardige hande elke dag gewerk het, is in die brand vernietig.

Hantie het net haar handsak en die klere aan haar lyf.

Hantie met haar gebrande brilkassie wat buite in die tuin gekry is.
Hantie met haar gebrande brilkassie wat buite in die tuin gekry is.

Ook die skilder Cobus van Wyk het alles verloor wat hy gehad het – ook sy ma wat op hierdie tragiese dag so uit hul lewens weggeruk is, en van wie daar die week afskeid geneem moet word. Haar glimlag sal Heldersig se mense onthou.

Mens kan nie glo dat iets so vinnig kan verander nie, sê Vivian wat as nutsman by Vrystaat Versorging in Aksie werk.

Maar in hierdie pyn is die plus van ‘n dorp se mense wat laer getrek het om hulle. Ook mense buite Parys het hul harte oopgemaak. So het Hantie ‘n pakkie uit die Kaap gekry met ‘n joernaal en die woorde – skryf neer wat jy beleef, wat jy onthou – dit sal help om die pyn te genees. ‘n Bybel, ‘n naelstelletjie, ‘n sjokolade. Deernis op soveel maniere.

Mense het aan alles gedink, sê Hantie. Nie net die onmiddellike waaraan jy dink nie, maar ook die dinge wat dalk minder saak maak, maar help heelmaak.

‘n Moeilike pad lê voor. Lewens wat weer uit die as herbou moet word. Maar dis ‘n pad wat engelmense saam met die mense van Heldersig stap – ook dié wat hier agterbly en dag na dag kyk na vier huise verswelg deur seer.

En dan weet jy – tussen die as brand daar tog ‘n vlam van hoop – helder soos die goudgeel blomme teen die tuinmuur van Vivian en Hantie Guthrie se huis waar die woorde staan – Keep nothing but memories. Leave nothing but footprints – want dis hier waar saam met die seer mense se goedheid en guns elkeen van hierdie slagoffers omvou het toe hulle dit die nodigste gehad het.

Mela

Omdat daar soveel beweging Sondag op die Heldersig-perseel was, hou Vivian en Hantie vas aan die moontlikheid dat klein Mela dalk in die chaos uitgekom het. Enigeen wat haar dalk sou gesien het, kan die DBV by 072 8944 061 skakel of VVA kontak by (056) 811 2971.

Klein Mela wat vermoedelik in die brand gesterf het.
Klein Mela wat vermoedelik in die brand gesterf het. Foto: Verskaf
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button