R3,6m se onwettige sigarette in die Vrystaat gekry
Die drie verdagtes wat tydens die operasie in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag 13 Julie vir die eerste keer in die Boshof-landdroshof verskyn.
Onwettige sigarette met ‘n beraamde waarde van ongeveer R3,6 miljoen is deur die polisie in die Vrystaat gekonfiskeer na ‘n intelligensiegedrewe operasie in Boshof.
Die Bloemfonteinse K9-eenheid en Provinsiale Misdaadintelligensie het beslag gelê op altesaam 339 bokse sigarette en meer as 15 000 los sigaretpakkies.
Volgens die polisie is daar Vrydag 10 Julie gereageer op inligting wat ontvang is. Die eerste deursoeking is by ’n supermark in die Boshof-sakesentrum uitgevoer, waar bokse met vervalste sigarette glo onder ’n bed versteek gevind is. Die polisie het daarna na ’n tweede adres in Voortrekkerstraat beweeg.

Met hul aankoms by die pakhuis het verdagtes na bewering weerstand gebied voordat die polisie uiteindelik toegang verkry het. Binne die pakhuis is nog bokse met onwettige sigarette ontdek.
Drie mans, onderskeidelik 22, 44 en 56 jaar oud, is in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van vervalste sigarette. Hulle staar ook aanklagte ingevolge die Wet op Onwettige Immigrasie in die gesig.




