Local newsNews

30-Jaar vir man wat E-huurmotorbestuurders beroof

Die hof het ook kennis geneem van die toenemende aantal rooftogte waarin e-huurmotorbestuurders geteiken word.

‘n Man van Eersterust is tot 30 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan twee gewapende rooftogte waarin e-huurmotorbestuurders geteiken is.

Die Pretoriase landdroshof het Kamar Davids (39) skuldig bevind op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Davids en ‘n medepligtige op die aand van 14 November 2023 ‘n e-huurmotordiens in Eersterust aangevra. Toe die bestuurder by die bestemming aankom en die voertuig stilhou, het die twee mans ingeklim, ‘n vuurwapen op die bestuurder gerig, hom aangerand en van sy persoonlike besittings beroof voordat hulle gevlug het.

Net twee dae later het die duo weer ‘n e-huurmotordiens in dieselfde gebied bestel. Nadat die bestuurder opgedaag het, het hulle hom wreed aangeval deur hom met ‘n vuurwapen te slaan en ‘n mes teen sy keel te druk terwyl hulle hom beroof het.

Polisiebeamptes wat op daardie stadium patrollie in die omgewing gedoen het, het die voertuig genader, waarna die twee verdagtes te voet gevlug het. Davids is egter kort daarna in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding nadat die NVG sy borgtogaansoek suksesvol teengestaan het.

Tydens die verhoor het Davids onskuldig gepleit en enige betrokkenheid by die misdade ontken. Staatsaanklaer Marsche Louw het egter sterk getuienis, insluitend die verklarings van albei slagoffers, aan die hof voorgelê wat sy skuld bo redelike twyfel bewys het.

In ‘n poging om ‘n ligter vonnis te verkry, het Davids se regsverteenwoordiger aangevoer dat die hof sy ouderdom en die feit dat hy vyf afhanklike kinders het, in ag moet neem en nie die voorgeskrewe minimum vonnisse moet oplê nie.

Louw het daarteenoor aangevoer dat Davids geen berou vir sy optrede getoon het nie en dat hy die slagoffers se grondwetlike reg op veiligheid en sekerheid ernstig geskend het. Sy het ook beklemtoon dat gewelddadige misdaad teen e-huurmotorbestuurders al hoe meer voorkom, wat dit vir baie bestuurders gevaarlik maak om hul werk te doen.

Volgens die aanklaer was die slagoffers gelukkig om met slegs geringe beserings daarvan af te kom en verwag die gemeenskap dat die howe ‘n duidelike boodskap sal uitstuur dat sulke misdade nie geduld sal word nie. Sy het aangevoer dat ‘n gepaste vonnis as afskrikmiddel vir Davids sowel as ander potensiële oortreders sal dien.

Met vonnisoplegging het die landdros saamgestem met die staat se argumente en bevind dat Davids geen berou oor sy dade getoon het nie. Die hof het ook kennis geneem van die toenemende aantal rooftogte waarin e-huurmotorbestuurders geteiken word.

Die landdros het verder opgemerk dat die slagoffers besig was om op ‘n wettige wyse hul inkomste te verdien toe hulle gewelddadig aangeval en beroof is. Die hof het bevind dat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnisse regverdig nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button