Local newsNews

Kleintyd se onthou kleurvol op skilderdoek onthou

"Ek maak galerykuns wat gewone mense kan koop," sê skilder Nic Oosthuizen.

“Wanneer jy so oud word soos ek, word jou herinneringe meer as jou drome,” gesels Nic Oosthuizen (87) waar hy op die stoep van Droomvrou in Parys se hoofstraat staan en skilder. Kleurvolle herinneringe uit sy kinderdae, daar tussen Standerton en Volksrust, wat hy met kwas en verf deel. Sy kunswerke vertel hartstories soos dié van oom Deale se winkel waar Jan Smuts in 1948 op die stoep tee gedrink het, sy pa se melkery, die beslaan van perde en sy ouers se stasiehuis.


By oom Deale se winkel kon jy van ‘n trekker tot klere koop. “Ons het nie ‘n motor daardie jare gehad nie,” vertel oom Nic. Maar wanneer sy pa met die perdekar by oom Deale se winkel gestop het, het ‘n sjieling (10c) ‘n koerantkardoesie vol helderkleurige lekkergoed gemaak.


“My pa het ‘n melkery gehad,” vertel oom Nic. Die melk is daardie jare in kanne met ‘n trollie stasie toe gevat. “Ons het vier perde gehad wat twee-twee om die beurt die trollie moes trek. Die perde moes beslaan word en my pa was die een wat my geleer het hoe om die perde te beslaan,” onthou hy.


En dan vertel hy van die Farmall trekker wat sy pa op Standerton gekoop het en sy trots toe hy – toe nog in standard agt – die trekker van Standerton af huis toe kon ry.


Daar is ‘n skildery van generaal Botha se huis, en vertel hy van sy ouers se stasiehuis met die groot eikehout hangkas, geelhout laaikas en ‘n bed wat oorspronklik uit Botha se huis gekom het.
“Ek maak nie museumkuns nie,” sê oom Nic. “Ek maak galerykuns wat gewone mense kan koop.”


Hy en sy vrou Meyera het etlike jare gelede van Vanderbijlpark na Parys verhuis.


Naas ‘n onderwysdiploma het hy ook ‘n graad in Beeldende Kunste, en vertel hy die staaltjie van hoe hy tydens sy studies aan Unisa ‘n lewende tekening moes maak as prakties vir een van sy vakke. Die dominee wat toesig moes hou was taamlik verleë oor die naakte model wat gekry moes word vir die werk, en het toe maar aangebied om eerder Nic se petrolgeld Pretoria toe te betaal sodat hy daar die prakties kon doen.

Nic het na sy studies kuns gegee vir matrieks in Nelspruit, en daarna ook by skole in Heidelberg en Linden. Selfs ‘n draai op Ermelo gemaak waar hy geskiedenisonderwyser was.

Nic Oosthuizen by sy treffende skildery van sy kleintyd-onthou van Oom Deale se winkel. Foto: Liezl Scheepers
Nic Oosthuizen by sy treffende skildery van sy kleintyd-onthou van Oom Deale se winkel. Foto: Liezl Scheepers


Maar atletiekafrigting was sy eintlike liefde. Hy’t oor die 50 jaar lank hekkies afgerig, en meer atletiekkursusse bygewoon as wat hy kon tel. Onder sy hande is twee Springbokatlete, Dawie Kuhn en Anina van Deventer (later van Heerden) gebrei. So tussendeur die skoolhou en ure op die atletiekveld was daar ‘n tyd wat oom Nic op sy pa se plaas by Standerton geboer het.


Eers in 1996 kon hy voltyds professioneel begin skilder. Hy is bekend vir sy besondere skilderye van skape, en het werke geskilder van Parys se pragtige ou geboue. Sy werk is oor die jare in galerye in Johannesburg, Shelly Beach en Heidelberg uitgestal. Sy dogter, Susan, is self ‘n bekende skilder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button