Brandgevaar: Dié statistiek wys die erns
'n Gemiddelde vertrek, soos 'n sitkamer waar daar baie brandbare materiaal is, kan binne drie minute nadat iets in die vertrek begin brand het, deur die vlamme verswelg word.
In somerreënvalstreke is die winter gewoonlik ‘n kritieke tyd vir brande. Ongelukkig besef mense nie altyd die gevaar nie, veral wanneer dit kom by oop vure en elektriese verhittingstoestelle soos verwarmers, elektriese komberse, stowe, kerse en selfs lugversorgers.
Gazette het met Vanessa Rossouw, brandweerhoof van die Ngwathe Brandweer- en Reddingsdiens, gesels oor brandvoorkomingswenke uit haar ervaring van wat dikwels by brande gesien word.
Rossouw het benadruk dat mense nie besef hoe vinnig ‘n brand versprei nie. ‘n Gemiddelde vertrek, soos ‘n sitkamer waar daar baie brandbare materiaal is, kan binne drie minute nadat iets in die vertrek begin brand het, deur die vlamme verswelg word.
Hoe vinnig ‘n brand versprei, hang af van verskeie faktore, waaronder die oorsprong van die brand.
By die meeste brande waar die Ngwathe-brandweerdiens hulp verleen het, was kerse, verwarmers en brandstigting die oorsaak.

Statistiek wys die erns
Van April tot Junie was daar altesaam 16 struktuurbrande by huise, en in informele nedersettings in Parys, Vredefort, Koppies en Edenville.
Dit sluit nie die vier meenthuise by die Heldersig-meenthuiskompleks in wat in Julie deur ‘n brand verwoes is nie.
Veldbrande het die afgelope twee weke ook skerp toegeneem. Van April tot Junie het die brandweer reeds by 21 veldbrande hulp verleen.

Let hierop:
- Kerse bly ‘n groot risiko.
- Primusstofies moet op ‘n gelyke oppervlak staan.
- Vermy bola-vure in ‘n huis waar koolstofmonoksied wat vrygestel word, dodelik kan wees.
- Sorg dat daar geen brandbare materiaal naby verhittingstoestelle is nie. Dink maar aan ‘n kussing of kombers wat naby ‘n verwarmer gelaat word, of ‘n verwarmer onder ‘n lessenaar. Dikwels word verwarmers aangelos wanneer mense ‘n vertrek verlaat wat die gevaar van ‘n brand verhoog soos wat met ‘n onlangse huisbrand in Koppies gesien is toe hulp deur die Ngwathe-brandweer aan ‘n 77-jarige dame verleen is.
- Moet nooit klere of handdoeke oor ‘n verwarmer hang nie.
- Wees versigtig vir oorverhitting van lugversorgers.
- Moenie kragpunte oorlaai nie, en moenie selfoonlaaiers en ander herlaaibare toestelle ingeprop hou nie.
- Laat diens jou noodkragopwekker.
- Hou vuurhoutjies weg van kinders.
- Vir lithiumbatterybrande het jy ‘n spesiale brandblusser nodig. Die batterye moet met installasie so geplaas wees dat daar ventilasie is. Installasies moet deur mense met die nodige kennis gedoen word. Sou die batterye brand, moet jy dadelik wegkom omdat dit giftige gasse afgee. * Dit is raadsaam om ‘n brandblusser of brandkombers in jou huis te hê. Brandblussers moet maklik bereikbaar wees en jaarliks gediens word deur ‘n verskaffer volgens die SANS1475 standaard.
- Die gevaar van gassilinders
- Leë gassilinders hou ‘n groter gevaar in as silinders wat vol is.
Die rede daarvoor is dat silinders met vloeibare petroleumgas onder druk hitte absorbeer en dat die vloeibare gas inderwaarheid die silinder beskerm. Sodra die silinder leeg word, sal hitte die staal verswak en sal die druk in die silinder opbou totdat dit ontplof.

Noodoproepe
* Gee duidelike inligting wat brand bv. huisbrand, veldbrand ensovoorts
* Spesifieke adres waar die brand is
* Naaste kruisstrate aan die adres
* Jou naam en telefoonnommer
In geval van ‘n brand
- Kry onmiddellik hulp.
- Sorg ook dat jy ‘n familielid of betroubare vriend het wat jy dadelik in geval van nood kan skakel om te help om die nodige hulp na die toneel te ontbied. In geval van nood is dit dikwels moeilik om die regte kontaknommers vinnig op jou selfoon te kry. As jy iemand het wat kalm is en daardie noodoproepe namens jou kan maak, kan dit baie help.
- Wanneer die brand klein genoeg is om te blus, en jy oor ‘n brandblusser beskik, probeer dit so gou moontlik blus.
- Kom weg van die brand.
- Neem jou diere na veiligheid.
- Hou belangrike dokumente bymekaar en in ‘n vuurvaste houer.
- Moenie teruggaan in ‘n struktuur wat brand nie.
Brandweer-kontaknommer
082 909 3464.
Omgee-gemeenskap
Die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens lewer benewens brandhulp ook ‘n noodreddingsdiens. Met 20 personeellede, wat beheerkameroperateurs insluit, moet die hele Ngwathe met sy vyf dorpe bedien word – ‘n bykans onbegonne taak.
Hierdie personeel is oor vier skofte ingedeel om ‘n 24-uur-diens te lewer, wat beteken dat daar slegs drie tot vier personeellede, insluitend die beheerkameroperateurs, per skof aan diens is.
As jy in ag neem dat die brandweer sedert die begin van Julie reeds by 18 veldbrande hulp verleen het (Heilbron uitgesluit), en dat daar die afgelope drie maande altesaam 110 brand- en noodinsidente was, waarvan 48 motorongelukke was, besef jy wat met beperkte personeel en toerusting vermag moet word.
Juis daarom is daar oneindige dankbaarheid teenoor die gemeenskap vir die hulp wat in geval van nood onbaatsugtig verleen word, het Rossouw gesê.



