Local newsNews

Nuwe rugby- en netbaltradisie neem vorm aan by PCS

Alle belangstellendes, veral ook tuisskoolleerders word genooi om in te skakel by die oefenprogram.

Die bekende krete van rugby en netbal weerklink deesdae vir die eerste keer langs die bane en velde van Parys Christelike Skool (PCS) waar ‘n nuwe sporttradisie besig is om vorm aan te neem.


Met die instelling van rugby en netbal wil die skool nie net sportgeleenthede vir leerders skep nie, maar ook ‘n kultuur van samehorigheid vestig waar ouers, onderwysers en afrigters saamwerk om die persoonlike ontwikkeling van elke kind te bevorder.


‘n Mylpaal is onlangs bereik toe rugbytruie deur ouers as borge aan die skoolhoof, mev. Paula Butler, en die eienaar van die skool, mev. Yolandie Zitzke, oorhandig is. Daarmee is die grondslag gelê vir die ontwikkeling van die rugbyprogram en die voorbereiding van die seuns vir hul eerste wedstryde wat vir die derde kwartaal beplan word.


Onder leiding van afrigters Gideon van Dyk en Leon Kruger ontvang die spelers afrigting in alle fasette van rugby.


“Die fokus val egter nie net op sportprestasie nie, maar ook op die ontwikkeling van lewensvaardighede soos dissipline, deursettingsvermoë, spanwerk en sportmanskap,” sê die afrigters.


PCS beskik tans oor ‘n junior groep wat Maandae en Woensdae van 13:00 tot 14:00 oefen, asook ‘n senior groep wat op dieselfde dae van 14:00 tot 15:00 oefen.


Die skool nooi alle seuns wat belangstel om rugby te speel om op 27 Julie by die oefengroepe aan te sluit.


Die plan is om aanvanklik aan sewesrugby deel te neem voordat daar na 15-man rugby uitgebrei word. Daar word veral ‘n beroep gedoen op tuisonderrigleerders en spelers van skole waar rugby nie aangebied word nie om deel van die inisiatief te word.


Terwyl die rugbyspelers nog voorberei vir hul eerste wedstryde, het die netbalspan reeds hul merk gemaak. Onder leiding van juffrou Zelda van Dyk en haar afrigtingspan het die netbaldogters reeds aan vriendskaplike wedstryde deelgeneem en uitstekende resultate behaal.

Die netbalspelers het reeds aan vriendskaplike wedstryde deelgeneem. Foto: Verskaf
Die netbalspelers het reeds aan vriendskaplike wedstryde deelgeneem. Foto: Verskaf


Die entoesiasme van spelers, die ondersteuning van ouers en die toewyding van afrigters skep groot verwagtinge vir die toekoms van rugby en netbal by Parys Christelike Skool.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button