Local newsNews

Nog 11 gevalle van Bek-en-klou in VS bevestig

Die departement sê dit is belangrik dat boere vermoedelike gevalle sal aanmeld en sal voortgaan om biosekuriteitsmaatreëls toe te pas.

Elf nuwe gevalle van Bek-en-klouseer is die afgelope week in die Vrystaat aangemeld. Die nuutste gevalle is in Welkom (3), Fauresmith (4), Bloemfontein (2) en Boshof (2) gerapporteer.

Die provinsie het in totaal reeds 739 gevalle van Bek-en-klouseer bevestig, waarvan 492 gevalle reeds suksesvol afgehandel is nadat die betrokke plase aan al die voorgeskrewe vereistes voldoen het om kwarantyn opgehef te kry ná voltooiing van die vereiste siektebeheermaatreëls. Dit beteken dat daar tans net 247 aktiewe gevalle is wat steeds onder kwarantyn is.

Gevalle in 19 plaaslike munisipaliteite bevestig

Tot dusver is gevalle van bek-en-klouseer in 19 plaaslike munisipaliteite bevestig. Die verspreiding per staatsveeartsenygebied is soos volg:

  • Kroonstad Staatsveeartsenygebied (Moqhaka Munisipaliteit): 125 gevalle
  • Heilbron Staatsveeartsenygebied (Ngwathe Munisipaliteit): 95 gevalle
  • Sasolburg Staatsveeartsenygebied (Metsimaholo Munisipaliteit): 64 gevalle
  • Frankfort Staatsveeartsenygebied (Mafube Munisipaliteit): 81 gevalle
  • Bethlehem Staatsveeartsenygebied (Dihlabeng en Nketoana Munisipaliteite): 67 gevalle
  • Warden Staatsveeartsenygebied (Phumelela Munisipaliteit): 45 gevalle
  • QwaQwa Staatsveeartsenygebied (Maluti-a-Phofung Munisipaliteit): 29 gevalle
  • Welkom Staatsveeartsenygebied (Matjhabeng en Nala Munisipaliteite): 49 gevalle
  • Ladybrand Staatsveeartsenygebied (Mantsopa en Setsoto Munisipaliteite): 46 gevalle
  • Smithfield Staatsveeartsenygebied (Mohokare en Mangaung Munisipaliteite): 16 gevalle
  • Fauresmith Staatsveeartsenygebied (Kopanong en Letsemeng Munisipaliteite): 17 gevalle
  • Bloemfontein Staatsveeartsenygebied (Mangaung Metro): 17 gevalle
  • Thaba Nchu Staatsveeartsenygebied (Mangaung Metro): 2 gevalle
  • Bultfontein Staatsveeartsenygebied (Tswelopele en Masilonyana Munisipaliteite): 35 gevalle
  • Boshof Staatsveeartsenygebied (Tokologo Munisipaliteit): 51 gevalle

Meer as 1,4 miljoen beeste reeds ingeënt

As deel van die nasionale risiko-gebaseerde inentingstrategie is 1 438 393 beeste reeds met die Biogenesis Bago- en Dollvet-entstowwe ingeënt.

Die departement sê die inentingsprogram gaan voort volgens die nasionale BKS-beheerstrategie. Voorkeur word gegee aan besmette plase, aangrensende plase, epidemiologies gekoppelde eiendomme en ander hoërisikogebiede wat deur veeartsenykundige risiko-evaluerings geïdentifiseer is.

Aansoeke vir inenting bly oop en die departement ontvang steeds ‘n groot aantal versoeke. Weens beperkte beskikbaarheid van entstof en die noodsaak om hoërisikogebiede eerste te bedien, kan nie alle aansoeke gedurende die aanvanklike fases van die program gehonoreer word nie, het die departement vandeesweek gesê.

Boere word egter aangemoedig om steeds aansoek te doen, aangesien hierdie inligting die departement help met die beplanning van toekomstige entstofverspreiding en inentingsveldtogte.

Departement waarsku oor versuim om siekte aan te meld

Die departement het ook weer sy kommer benadruk oor die feit dat sommige veeboere steeds versuim om vermoedelike gevalle van bek-en-klouseer aan te meld.

Volgens die departement is tydige aanmelding nie net ‘n wetlike verpligting nie, maar ook noodsaaklik vir doeltreffende siektetoesig, beheer en uiteindelike uitwissing van die siekte.

Ingevolge Staatskoerant No. 54969, Regeringskennisgewing No. 7668 van 8 Julie 2026, moet alle vermoedelike gevalle van bek-en-klouseer onmiddellik op dieselfde dag aangemeld word sodat ondersoeke, kwarantyn en ander beheermaatreëls sonder vertraging ingestel kan word.

Die departement waarsku dat die versuim om gevalle aan te meld nie net ‘n oortreding van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet No. 35 van 1984) is nie, maar ook die vermoë benadeel om die omvang van die siekte akkuraat te bepaal, verdere verspreiding te beperk en entstofbeplanning doeltreffend te bestuur.

Bioveiligheid bly noodsaaklik

Die departement sê hy is bewus van ‘n afname in die nakoming van basiese bioveiligheidsmaatreëls op sommige plase, en sê dat dit ook die risiko verhoog dat die siekte tussen aangrensende plase versprei, en kan die voortdurende pogings om die uitbreking te beperk, ondermyn.

Alle veeboere, veeveilings, voerkraaloperateurs, spekulante en ander rolspelers in die veebedryf word herinner aan hul wetlike verantwoordelikheid om die invoer en verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom.

Die departement beklemtoon dat die regulasies in die Staatskoerant ‘n eenvormige nasionale raamwerk bied vir kwarantyn, beheer van dierebewegings, inenting, bioveiligheid, naspeurbaarheid en siektetoesig regoor Suid-Afrika.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button