Begeleide geologiese staproete – ‘n eerste vir Koepel wêrelderfenisterrein
Die roete verskil van gewone staproetes waar stappers sonder begeleiding stap op hul eie pas.
Mense wat geïnteresseerd is in die geologiese wonder van die Vredefort Koepel sal binnekort ‘n unieke geologiese staproete (Geo-roete) in die bekende Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied kan stap.
Die roete is deur Gideon Ellis, ‘n geregistreerde Natuurveldgids en Bakenveld Ereveldwagter van Potchefstroom oor ‘n tydperk van meer as ‘n jaar op die plaas Kopjeskraal net buite Parys ontwikkel.
Die roete is onlangs ook beoordeel deur ‘n verteenwoordiger van Green Flag Trails International (Frankryk) wat die groen lig vir die opening van die roete gegee het.

Gideon het die afgelope naweek stappers van die Vaal Stapklub genooi om die roete by Kopjeskraal County Lodge in die Vredeford Koepel onder sy begeleiding te kom stap.
‘n Groep van 13 gesoute stappers van die klub het die 7 km begeleide roete gestap.

Omdat dit ‘n begeleide staproete is waar die unieke geologie en besonderse natuurskoon op die roete bewonder en verduidelik word, neem die roete tussen 5.5 en ses ure om te voltooi. Die roete verskil dus van gewone staproetes waar stappers sonder begeleiding self stap op hul eie pas.

Geo-roete. Foto: Verskaf
Volgens kennis is die begeleide Geo-roete die eerste van sy soort in Afrika.
Die Vredefort Koepel se wêrelderfenis verklaring deur UNESCO is juis as gevolg van die wêreldberoemde geologiese formasies en besonderse natuurskoon wat in die gebied voorkom.
Die geologiese geskiedenis van suidelike Afrika kan op die begeleide roete waargeneem word, wat dié roete uniek maak.

Die roete is oopgestel vir volwassenes op Saterdagoggende, en vir skoolgaande kinders gedurende die week op vooraf bespreking alleenlik.
Na die naweek se stap het lede van die klub terugvoer oor die roete gegee en aanbevelings gemaak om dit verder te verbeter. Daar is ook heerlik agter die braaivleisvure gekuier en ervarings gedeel.
Vir navrae en besprekings oor die geo-roete kan Gideon Ellis geskakel word by 082 945 0623, of Christo Meyer by 083 406 0841. Daar word ‘n vrywillige donasie van stappers gevra vir die Wildlife Conservancy Trust – Vredefort Dome, wat aktief in die area werk om die besonderse natuur in die omgewing te bewaar en in stand te hou vir besoekers om te geniet.
Die wêrelderfenisterrein is grootliks in private besit, en is nie geredelik oop vir die publiek om te besoek nie. Die Geo-Roete is dus ontwikkel om in hierdie besonderse behoefte te voorsien en ‘n groot toeriste-aanwins vir die omgewing.




