Local newsNews

Korrektiewe Sentrum-projek na sewe jaar steeds nie voltooi

Die projek moes oorspronklik in 2023 voltooi wees, en daarna is gesê dat die projek in Augustus 2025 klaar sou wees. 'n Jaar later is daar steeds nie 'n datum wanneer die sentrum sal open nie.

Meer as sewe jaar nadat met die vergroting en opknapping van die Parys Korrektiewe Sentrum begin is, is die projek steeds nie voltooi nie. Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste, het by navraag gesê die projek gaan voort, maar dat die departement tans nie in ‘n posisie is om hom tot ‘n voltooiingsdatum te verbind nie. Hy kon ook nie sê wanneer die sentrum na verwagting weer operasioneel sal wees nie.

Die projek, waarvoor aanvanklik R282m begroot is vir die opgradering en restourasie van die ou gevangenissentrum, is in Maart 2024 aan ‘n nuwe kontrakteur oorhandig nadat dit maande lank stilgestaan het omdat die vorige kontrakteur se kontrak weens swak prestasie beëindig is.


Die nuwe generasie-fasiliteit sal met voltooiing 266 beddens hê, teenoor die 84 beddens wat die ou sentrum gehad het. Dit moet ook voorsiening maak vir ‘n mediese fasiliteit, onderrig- en opleidingsfasiliteite, ‘n sokkerveld en ‘n gesofistikeerde sekuriteitstelsel met ‘n sentrale beheerkamer, is aanvanklik met die bekendstelling van die projek gesê. Die projek is in Desember 2018 aan NJR Projects (wat later sy naam na G5 Group verander het) toegeken teen ‘n bedrag van R282m. In Februarie 2019 is die bouperseel aan die kontrakteur oorhandig, en moes die 36-maande-kontrak teen April 2023 voltooi wees.


In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beëindig weens swak prestasie. Luidens ‘n verslag was die projek toe net 55% voltooi, terwyl die kontraktermyn reeds byna verstryk het. Van die toegekende kontrakbedrag is R130 879 446,81 toe reeds spandeer.


Vroeër is gesê kontantvloeiprobleme by die kontrakteur wat die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys moes vergroot en opgradeer, was die hoofrede waarom konstruksiewerk nie binne die kontraktermyn voltooi is nie. Die situasie is deur Covid-19 vererger, want hoewel baie van die werk reeds gedoen was, was die skade aan die halfklaar geboue wat in wind en weer gestaan het, duidelik. ‘n Nuwe kontrakteur is daarna in Desember 2023 aangestel, en sy konstruksiepermit is in Januarie 2024 deur die Departement van Arbeid uitgereik.


Die 18-maande-projek moes reeds teen Augustus 2025 voltooi wees.

Die foto is in 2024 geneem met die oorhandiging van die projek aan die kontrakteur. Foto: Liezl Scheepers
Die foto is in 2024 geneem met die oorhandiging van die projek aan die kontrakteur. Foto: Liezl Scheepers

Logistieke uitdagings


Die sloering van die projek het enorme logistieke uitdagings en koste vir die Departement van Korrektiewe Dienste meegebring, met gevangenes en personeel wat na naburige fasiliteite vervoer moet word. Boonop plaas dit bykomende druk op reeds oorvol korrektiewe fasiliteite.


Nxumalo het aan Gazette gesê alle betrokke partye is bewus van die dringendheid van die projek, maar dat die vertraging aan verskeie faktore toegeskryf kan word, insluitend wetlike kwessies wat vordering belemmer het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button