Local newsNews

Opgradering van Korrektiewe Sentrum nader voltooiing ná agt jaar se sloer

Na byna agt jaar is die projek nou 76% voltooi.

Hoewel konstruksie van die Parys Korrektiewe Dienste-sentrum na verwagting teen 14 Desember vanjaar voltooi sal wees, is nog geen datum bekend vir wanneer die fasiliteit operasioneel sal wees nie.


Die adjunkminister van Openbare Werke, Sihle Sikalala, vergesel van die Vrystaatse LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur, Dibolelo Mance, het 20 Augustus die konstruksieperseel saam met senior bestuur van die Departement van Korrektiewe Dienste besoek om vordering met die restourasie van die oorspronklike fasiliteit, asook die opgradering en uitbreiding van die nuwe fasiliteit, te monitor.


Die nuwe generasie fasiliteit sal met voltooiing 266 beddens hê, teenoor die 84 beddens wat die ou sentrum gehad het.


Daar is aanvanklik met die bekendstelling van die projek gesê dat dit ook voorsiening moet maak vir ‘n mediese fasiliteit, onderrig- en opleidingsfasiliteite, ‘n sokkerveld en ‘n gesofistikeerde sekuriteitstelsel met ‘n sentrale beheerkamer.


Die projek is in Desember 2018 aan NJR Projects (wat later sy naam na G5 Group verander het) toegeken teen ‘n bedrag van R283m.


In Februarie 2019 is die bouperseel aan die kontrakteur oorhandig, en moes die 36-maande-kontrak teen April 2023 voltooi wees. In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beëindig weens swak prestasie. Luidens ‘n verslag was die projek toe net 55% voltooi, terwyl die kontraktermyn reeds byna verstryk het.
Van die toegekende kontrakbedrag is 45% toe reeds spandeer.


Vroeër is gesê kontantvloeiprobleme by die kontrakteur wat die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys moes vergroot en opgradeer, was die hoofrede waarom konstruksiewerk nie binne die kontraktermyn voltooi is nie.


Die situasie is deur Covid-19 vererger, want hoewel baie van die werk reeds gedoen was, was die skade aan die halfklaar geboue wat in wind en weer gestaan het, duidelik.


‘n Nuwe kontrakteur is daarna in Desember 2023 aangestel, en die konstruksiepermit is in Januarie 2024 deur die Departement van Arbeid uitgereik.


Die projek is einde Februarie 2024 aan die nuwe kontrakteur oorhandig en sou binne 18 maande, teen Augustus 2025, voltooi wees, maar die voltooiingsdatum is later hersien na 20 Mei 2026.

Die Vrystaatrse LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur, Dibolelo Mance (tweede van links) het die adjunkminister van Openbare werke op sy geëntegreerde diensleweringsbesoek aan Payrs vergesel. Foto: Liezl Scheepers
Die Vrystaatrse LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur, Dibolelo Mance (tweede van links) het die adjunkminister van Openbare werke op sy geëntegreerde diensleweringsbesoek aan Payrs vergesel. Foto: Liezl Scheepers


Na byna agt jaar is die projek nou 76% voltooi. Die sloering van die projek het egter enorme logistieke uitdagings en koste vir die Departement van Korrektiewe Dienste meegebring, met gevangenes en personeel wat na naburige fasiliteite vervoer moet word. Boonop plaas dit bykomende druk op reeds oorvol korrektiewe fasiliteite.


Adjunkminister Sikalala het gesê sy departement is bewus van die koste en ongerief wat die sloering met die projek veroorsaak het, veral met die vervoer van verhoorafwagtendes.

Die adjunkminister van Openbare Werke, Sihle Sikalala, word rondgewys op die konstruksieperseel tydens 'n oorsigbesoek aan die Parys Korrektiewe Dienste sentrum-perseel. Foto: Liezl Scheepers
Die adjunkminister van Openbare Werke, Sihle Sikalala, word rondgewys op die konstruksieperseel tydens ‘n oorsigbesoek aan die Parys Korrektiewe Dienste sentrum-perseel. Foto: Liezl Scheepers


Hy het daarop gewys dat implementeringsagente dikwels bydra tot die sloer met die voltooiing van projekte. Hy het ook opgemerk dat dit jammer is dat so ‘n moderne en goed toegeruste sentrum soos dié wat hier gesien word, vir misdadigers gebou word.


Hy het die hoop uitgespreek dat misdaad in die land vasgevat sal word sodat daar uiteindelik minder misdadigers in gevangenisse sal wees.


Daar is ook pertinent verwys na die departement se betalings vir munisipale dienslewering, en is onderneem dat dit aangespreek sal word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button