Local newsNews

Operasie Shanela II: 1 513 in Vrystaat in hegtenis geneem

Die operasie vorm deel van die wetstoepassingsowerhede se voortgesette pogings om misdaad hok te slaan, wetsoortreders aan te keer en nakoming van wetgewing in die Vrystaat te versterk.

Altesaam 1 513 verdagtes is in die Vrystaat in hegtenis geneem tydens die jongste geïntegreerde Operasie Shanela II.

Die multidissiplinêre ProvJOINTS-spanne het onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), provinsiale verkeersdepartement, Departement van Binnelandse Sake, Korrektiewe Dienste, Arbeid, Maatskaplike Ontwikkeling, Onderwys en Landbou ingesluit. Die Departement van Ekonomiese, Klein Sake-ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ook aan die operasie deelgeneem.

As deel van die operasie is 217 opsporingsaksies en 462 nasporingsaksies teen gesoekte verdagtes uitgevoer. Wetstoepassers het ook 318 voertuigkontrolepunte, 26 padblokkades en 1 486 stop-en-deursoekaksies uitgevoer.

In totaal is 796 persele, 19 447 voertuie en 51 252 mense deursoek.

Onder die verdagtes wat in hegtenis geneem is, was:

  • 59 vir verkragting en ander seksuele misdrywe;
  • 82 vir aanranding met die doel om ernstig te beseer;
  • 14 vir poging tot moord en moord;
  • 36 vir huis- en sake-inbrake; en
  • 192 ongedokumenteerde persone.

Drank en smokkelware geteiken

Die geïntegreerde magte het ook 938 gelisensieerde drankpersele geïnspekteer. Twee-en-twintig ongelisensieerde drankpersele is gesluit, terwyl 1 436,20 liter alkoholiese drank gekonfiskeer is.

Wetstoepassers het verder 174 tweedehandsehandelaars geïnspekteer en 21 kennisgewings uitgereik.

Altesaam 52 skrootwerwe en herwinningsondernemings, asook 138 informele ondernemings, waaronder spaza-winkels, is besoek.

Amptenare van Binnelandse Sake en Arbeid het ook 3 375 plase besoek om nakoming van wetgewing te verseker.

Vuurwapens en dwelms beslag gelê

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ses vir die onwettige besit van ammunisie.

Die polisie het beslag gelê op:

  • 5 vuurwapens;
  • 309 rondtes ammunisie;
  • 93 pakkies tabakprodukte;
  • 39 Mandrax-tablette;
  • 1 628,40 gram Mandrax-poeier;
  • 303,30 gram kristalmetamfetamien (tik);
  • 38,04 gram crack-kokaïen; en
  • 54,41 kilogram dagga.

Altesaam 23 verdagtes is in hegtenis geneem vir die handel in dwelms, terwyl nog 70 vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.

Die geïntegreerde operasies sal voortgaan. Die volgende week se beplande Operasie Shanela II-aksies sal in die Fezile Dabi-, Lejweleputswa-, Thabo Mofutsanyana- en Xhariep-distrikte, asook die Mangaung-metro, uitgevoer word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button