Operation Fix my Road aan die werk
Die materiaal vir die herstelwerk word plaaslike vervaardig.
Herstelwerk aan paaie deur die Ngwathe Munisipaliteit se Padherstel- en Onderhoudsprogram is vandeesweek in Father Balinkstraat gedoen.
Daar is ook al aan paaie in die Tumahole en Schonkenville woonbuurte gewerk. Met die Operation Fix my Road-program wat vroeër vanjaar bekendgestel is, word 60 mense oor ‘n 12 maande periode deur die diensverskaffer, Safeti (South African Foundation For Empowerment, Traininig & Innovation), opgelei om hulle met die nodige vaardighede toe te rus om slaggate te herstel.

Die program sal in al die dorpe binne die Ngwathe-grense (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville) geïmplementeer word.Die munisipaliteit het met die bekendstelling van die program gesê gebrek aan kennis en vaardigheid het in die verlede veroorsaak dat slaggate keer op keer weer herstel moes word, en is dit nodig dat werknemers toegerus sal word met die nodige kennis vir behoorlike herstelwerk.
Tobs Molefe van Safeti het verduidelik dat die diensverskaffer slegs met die teoretiese en praktiese opleiding van werknemers in die program gemoeid sal wees, maar dat die werk uiteindelik hande arbeid sal vereis van hulle wat die opleiding met sukses voltooi het en die werk sal doen.


Materiaal vir die herstel van die slaggate word plaaslik by die munisipale magasyn vervaardig om te verseker dat daar nie tekort aan materiaal sal wees nie, het hy gesê.



