Local newsNews

Soek-en-reddingshond lei polisie na menslike oorskot in brandpuin

Forensiese toetse sal gedoen word om die identiteit van die oorledene te bepaal.

Wat aanvanklik na ’n verwoestende brand in ’n gebou in Bloemfontein se sentrale sakekern gelyk het, het ’n tragiese wending geneem nadat menslike oorskot in die puin gevind is.

Die brand het Sondag 23 Augustus in die vroeë oggendure by ’n gebou in St Andrewsstraat, ook bekend as China City ontstaan.

Die noodoproep is omstreeks 03:49 die oggend ontvang, waarna brandweer- en reddingspanne na die toneel ontbied is.

Brandbestryders het onverpoos gewerk om die vlamme onder beheer te bring en het daarna op die toneel gebly om ‘n wakende oog te hou.

Weens die omvang van die skade en die onstabiele toestand van die gebou moes nooddienspersoneel eers seker maak dat die struktuur veilig is voordat wetstoepassers toegang kon kry.

Nadat die gebou veilig verklaar is, het die soektog na moontlike slagoffers begin.

Die brandtoneel waar menslike oorskot onder die brandpuin gekry is. Foto: SAPD Kommunikasiedienste
Die brandtoneel waar menslike oorskot onder die brandpuin gekry is. Foto: SAPD Kommunikasiedienste

Adjudant-offisier Swannie Swanepoel, ’n soek-en-reddingshondhanteerder, en sy vierjarige Belgiese herdershond, Parco, het met die soektog gehelp. Terwyl die span versigtig deur die puin gewerk het, het Parco ‘n uitwysing gemaak en is menslike oorskot onder die rommel gevind.

Die omstandighede rondom die brand, asook die identiteit van die oorledene, word steeds ondersoek, het polisiewoordvoerder kaptein Lorraine Earle gesê.

Earle het gesê forensiese toetse sal gedoen word om die identiteit van die oorledene te bepaal.

Die oorsaak van die brand is ook nog onbekend en word ondersoek. Wetstoepassers sal voortgaan met hul onderskeie ondersoeke, het Earle gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button