Plaaslike strykers laat musiekharte warm klop
Wanneer 'n mens dieselfde liefde vir musiek 'n geslag later sien voortleef, word die verhaal soveel groter as net een konsert of een uitvoering – dit word deel van 'n gemeenskap se erfenis.
‘n Groep strykers van Parys en Vredefort staan hul plek vol in die Noordwes-Universiteit se Jeugorkes. Elkeen van dié jong musikante het óf sy of haar wortels in die omgewing, óf ‘n besondere verbintenis daarmee. Vi’en Lurie, Gabriela Steenkamp en Jonatan Pienaar is leerlinge van die Erna Rademan Musiekskool.
Radisemelo Modise se pad na die orkes het deur die Mangaung Strings/Bochabela Strings-program geloop– ‘n program wat Rademan in 2015 na Vredefort gebring het en waardeur jong musikante die geleentheid gekry het om strykinstrumente te leer speel.

Voor is Barend Wentink en Jonatan Pienaar.
Barend Wentink se Vredefort-bande strek oor geslagte heen. Sy oupa, ook Barend, is ‘n Vredeforter, terwyl sy pa, Gideon, van Sub A tot matriek ‘n leerling aan Vredefort se Hoërskool Chris van Niekerk (CVN) was.
Gideon, self ‘n besonder musikale en begaafde man, het deur sy hele skoolloopbaan klavierles by Rademan geneem, en ook in haar koor gesing.
Familie-ondersteuning
Agter jong musikante wat ure lank oefen en hul plek in ‘n orkes verdien, staan daar dikwels families wat saamry, luister, aanmoedig en ondersteun.
Vir Gabriela lê ook haar familie se wortels diep in Vredefort en het hulle ‘n besondere geskiedenis met Hoërskool CVN. Gabriela se tannies was almal hoofdogters van die skool. Die vier sibbe, kinders van wyle Johan en Trui Steenkamp van die plaas Esperanza, het almal van Sub A tot matriek hul skoolloopbane aan Hoërskool CVN voltooi.
Daar loop ook ‘n besondere musikale draad deur dié familie se verhaal. Al vier die Steenkamp-sibbe het self ‘n pad met Rademan geloop deur in haar kore te sing en klavierles by haar te neem. Jare later is dit Albertus, die jongste kind, se dogter wat as Rademan se vioolleerling haar eie musiekpad stap.
Vir Rademan was daar iets besonders aan die sirkel wat dié aand voltooi is: kinders met wie sy jare gelede musiek gemaak het, het nou saamgesit en luister hoe die volgende geslag op die verhoog musiek maak.
‘n Onderwyser se trots
“‘n Mens begin met ‘n kind en ‘n instrument, soms met net ‘n handjievol note, en stap dan jaar ná jaar saam met hulle. Om hulle uiteindelik hier te sien – as lede van ‘n jeugorkes, besig om saam met ander jong musikante op hierdie vlak musiek te maak – is ‘n voorreg,” het Rademan gesê.

NWU Jeugorkes
Die NWU Jeugorkes sluit volgende week sy seisoen in Potchefstroom af. Vir Parys en Vredefort is hierdie strykers ‘n bewys dat talent wat in ‘n klein gemeenskap ontkiem, met goeie onderrig, geleenthede, harde werk én die ondersteuning van families kan groei en vlerke kry. “Wanneer ‘n mens dieselfde liefde vir musiek ‘n geslag later sien voortleef, word die verhaal soveel groter as net een konsert of een uitvoering – dit word deel van ‘n gemeenskap se erfenis.”



