Sewe wat munisipaliteit glo uit miljoene bedrieg voor die hof
Die bedeog hou verband met 'n onwettige verkoopsooreenkoms van munisipale grond ter waarde van R144 miljoen.
Die sewe beskuldigdes wat aangekla is vir miljoene se bedrog by die Mahikeng Plaaslike Munisipaliteit, het Donderdag 22 Oktober, en Vrydag 23 Oktober voor die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in die Molopo-streekhof verskyn. Hendrik Smith, Petrus van der Merwe, Barbra van der Merwe, Sarel van Niekerk, Brian Moholo, Tshepiso Moholo en Reggie Mutsi is aangekla vir 46 klagtes van korrupsie, bedrog, oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en geldwassery.
Die sewe is deur die Valke gearresteer.
Volgens die klagstaat het Hendrik Smuts en Petrus van der Merwe na wat beweer word tussen 2007 en 2009 met ‘n gemeenskaplike doel optree om die Mahikeng Plaaslike Munisipaliteit te bedrieg met ‘n onwettige verkoopsooreenkoms van munisipale grond ter waarde van R144 miljoen.
Die ooreenkoms het vereis dat die koper die volle koopprys moes betaal. Slegs R5 miljoen is egter betaal,
Die R5 miljoen-betaling is gemaak ingevolge ‘n ongemagtigde ooreenkoms tussen die beskuldigdes en ander partye. Die munisipaliteit was onbewus van die reëling en het dit nie gemagtig nie.
Die gedeeltelike betaling is gedoen nadat die oorspronklike verkoopsooreenkoms gewysig en die koopprys van die grond verminder is.
In Februarie 2009 is die grond oorgedra nadat Smuts ‘n aansoek by die Aktekantoor in Vryburg ingedien het. Die oordrag het voortgegaan ten spyte van die uitstaande balans en sonder die vereiste munisipale magtiging.
Daar word verder bewerer dat die ander beskuldigdes tussen 2011 en 2013 deelgeneem het aan ‘n skema om die Reguleringsowerheid vir Maatskaplike Behuising (SHRA) van meer as R100 miljoen te bedrieg, deur gebruik te maak van die grond wat deur die beweerde bedrog verkry is.
Volgens Lindiwe Mabasa, ‘n woordvoerder van Nasionale Vervolgingsgesag, was Brian Moholo destyds die Hoof Uitvoerende Beampte van die SHRA en het die proses waarvolgens die fondse verkry is, gefasiliteer en gemagtig. Die beskuldigdes het ook aansoek gedoen vir meer as R100 miljoen vir maatskaplike behuisingsbefondsing, glo om maatskaplike behuisingseenhede in Mahikeng te bou.
Die beoogde behuisingseenhede is nooit voltooi nie. In plaas daarvan is slegs strukture opgerig, om die ware doel van die skema te verbloem. Die SHRA het finansiële skade van meer as R100 miljoen gely.
Borgtog is aan al sewe beskuldigdes toegestaan. Ses is borgtog van R10 000 elk toegestaan, terwyl beskuldigde 5, Moholo, borgtog van R5 000 kry het. Die saak is uitgestel na 7 Desember vir verdere ondersoek.



