“Hierdie was nie ’n teepartytjie nie”
“U Edele, hierdie was nie n teepartytjie nie.” Dit het vinnig en hard gebeur het Ockert van Zyl Woensdag hier in die Rondgaande Hoë Hof in Parys voor regter Corné van Zyl getuig. Hy is deur die staat geroep as getuie van wat die aand van 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip gebeur het …
“U Edele, hierdie was nie n teepartytjie nie.” Dit het vinnig en hard gebeur het Ockert van Zyl Woensdag hier in die Rondgaande Hoë Hof in Parys voor regter Corné van Zyl getuig.
Hy is deur die staat geroep as getuie van wat die aand van 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip gebeur het toe Samuel Jubeda en Simon Tjixa na bewering so aangerand is dat hul later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.
Ses mans van Parys, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren is vir die moorde aangekla terwyl Boeta en Loedie ook tereg staan op ’n klag van regsverydeling. Die mans ontken skuld op die klagtes.
Ockert van Zyl,’n besigheidsman en boer tussen Parys en Koppies, het getuig dat hy en Anton die dag saamgewerk het op die grond wat hulle huur. “Ons beeste is saam daar.” Anton en sy seun Cor is tussen 17:00 en 17:30 daar weg.
Van Zyl het toe gehoor van die aanval op Loedie van der Westhuizen Sr en vir Anton laat weet. Anton het op daardie stadium ook nie van die aanval geweet nie, maar gesê hy sien verskeie voertuie van die teenoorgestelde rigting kom. ’n Halfuur later het Anton teruggebel en gesê dat hul op die spoor van die verdagtes is maar diesel nodig het omdat sy tenk leeg was.
Ockert van Zyl het getuig dat hy toe die diesel vir Anton gevat het, en op die toneel die twee beseerde mans agterop Anton se bakkie gesien het.
Hy’t verder getuig dat hy gesien het dat Boeta met iets soos ’n waaierband een van die mans aanhoudend geslaan het. Hy getuig ook dat hy sou gesien het dat kapt. Henk Prinsloo een van die mans sou geskok het met ’n skokstok. Ook dat Prinsloo water uit n bottel in die man se mond laat loop het “seker om hom by te kry.”
Ockert van Zyl het getuig dat met die slanery bloed gespat het en hy teruggestaan het omdat hy nie wou hê dat die bloed op hom spat nie.
Volgens hom kon die man nie praat of die houe keer nie en het hy gedink dat die man bewusteloos was.
Die man het ook nie gereageer toe hy geskok is nie.
Die ander man het gesit-lê op die bakkie en Van Zyl kon nie tekens van lewe by hom sien nie.
Van Zyl het getuig hy is die volgende dag na ’n karwas onderneming waar hy die foto’s van die beseerde mans agterop die bakkie aan die persoon gewys het wat die voertuig in ontvangs geneem het.
Hy is van die karwas onderneming na die Spur waar hy Anton en sy broer ontmoet het. Hy het getuig dat die fotos by die Spur van die selfoon afgevee is.
Van Zyl het die oggend op pad Spur toe gehoor 1 van die beseerde mans is oorlede.
Hy het in die hof verskoning gevra vir die kru-taal wat hy uit “absolute sinnelose bravade” by die karwas-onderneming gesê het.
Hy het getuig hyself het niemand aangerand nie. Volgens hom was dit donker op die toneel maar daar was handligte.
Kruisondervraging van Ockert van Zyl sal Donderdag 18 Mei gedoen word.
Nomhle Salomina Plaatjie wat ten tyde van die voorval vir Boeta as huishulp gewerk het, het daarna getuig oor’n bebloede kakie kortbroek en hemp en tekkies wat sy in Boeta se kamer sou gekry het die dag na die voorval.
Sy het getuig dat sy die vorige aand by haar man, Thomas Direko, gehoor het dat daar mense geslaan is en dat sy daarom die klere en tekkies eenkant gesit het omdat sy gedink het die polisie sou daarvoor kom soek.
Toe hulle nie kom nie het sy die klere gewas en het die volgende dag 8 Januarie 2016 op verlof gegaan.
Die verdediging het in kruisondervraging haar gevra of sy ’n selfoon gehad het met n kamera en lugtyd, en wou weet hoekom sy nie die verdagte bloed aan die tekkies afgeneem het nie.
Sy het onder kruisondervraging gesê niemand van die huishouding het haar gevra om die klere te was nie.
Op n vraag of sy polisie toe is toe sy die volgende dag op verlof gegaan het, het sy nee gesê. Die verhoor duur voort.



