Welkom in Parys (6)
DIE TAAL WAT ONS TIK. Kyk, ek is nie ‘n oordrewe taalpuris nie, maar dit doen my hart goed om spel- en taalfoutlose Afrikaans te lees. En daarmee moet ek Parys Gazette gelukwens. Dis ‘n plesier om die goed versorgde berigte te lees. Taalpuriste het al baie gal afgegaan oor die foute wat gemaak word …

DIE TAAL WAT ONS TIK.
Kyk, ek is nie ‘n oordrewe taalpuris nie, maar dit doen my hart goed om spel- en taalfoutlose Afrikaans te lees. En daarmee moet ek Parys Gazette gelukwens. Dis ‘n plesier om die goed versorgde berigte te lees.
Taalpuriste het al baie gal afgegaan oor die foute wat gemaak word op die sosiale media, veral Facebook. Maar nou die dag het ek lekker gelag oor ‘n tikfout. Iemand het ‘n vraag gevra oor naelversorging en toe kom die opmerking: “Jy moet eers al die ou lak verwyder.” Ongelukkig het sy die toets net links van die l op die toetsbord gedruk. En dit gebeur baie keer dat mense die verkeerde toetse druk veral omdat die lettertjies maar baie klein is op selfone. En mense is haastig. Die boodskap is belangriker as die tikfoute.
Dis maklik om te onderskei tussen tikfoute en taalfoute. As jy lees: Die man het in die hof geruig, dan weet jy dis ‘n tikfout want r en t sit langs mekaar op die toetsbord. Maar as ‘n persoon meer as een keer in ‘n stuk skryf: “X moet onverskoning vra” en later “Y moet ook onverskoning vra” dan het jy ‘n taalfout. Nie net moet on eintlik om wees nie, ‘n foutiewe woord dus, maar ook los geskryf word van verskoning, m.a.w. ‘n spelfout.
Ag, ‘n mens kan lyste vol maak van die foute wat mense maak. Die verwarring tussen waardeer en waardeur, offer en aanbod, grotes en groottes en die ewige lapa’s i.p.v. lapas.
Maar die grootste probleme kom by los en vas skryf: vakansie woonstel i.p.v. vakansiewoonstel; staats hospitaal i.p.v. staatshospitaal, dokters besoeke i.p.v. doktersbesoeke, kombuis kaste i.p.v. kombuiskaste en so honderde meer.
Maar wat my eintlik baie pla is die foutiewe Afrikaans op naamborde en in advertensies. Wat maak dit saak? Dit maak saak want honderde mense sien dit en sien is glo. As dit op ‘n naambord of in ’n advertensie verskyn, moet dit mos reg wees. ‘n Mentale beeld word vasgelê en die fout word as’t ware gekopieer.
Ek sit met ‘n pasafgelewerde advertensieboekie en kyk na ‘n volbladadvertensie in Afrikaans. Nie minder nie as sewe taalfoute. Een bladsy verder ‘n halfbladadvertensie wat dieselfde dienste adverteer. Alles perfek in goeie Afrikaans.
Onlangs sien ek ‘n advertensie van iemand wat boodskappe op deurmatjies druk. Een van die voorbeelde is: Welkom by die Maree’s. Ek wys die persoon toe daarop dat Maree’s ‘n spelfout is. Dit moet Marees wees. Die antwoord: nee, dit is nie ‘n spelfout nie. Dit is soos die klant dit wou hê.
Nou vra ek. Is dit die verantwoordelikheid van drukkers soos koerante, boekies, pamflette, ens. om hulle klante daarop te wys as daar taalfoute voorkom, in watter taal ook al? Kennelik ken die klant nie die taalreëls nie of gee nie om nie of hy het die fout al soveel keer gesien dat hy dink dis reg so.
En dan dink ek altyd, en ek weet dis dalk onregverdig, as die ou nie eers sy advertensie kan taalversorg nie, hoe kan ek hom vertrou om my kar, wasmasjien, stofsuier of wat ook al, te versorg?



