
Daar was die afgelope ses jaar ‘n reuse afname in die aantal polisiereserviste.
Die minister van polisie, Bheki Cele, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag gesê die aantal kategorie A-reserviste op 31 Mei 2018 was slegs 3 002 teenoor die 17 939 op 31 Mei 2012. Die aantal kategorie D-reserviste was op 31 Mei 2018 slegs 4 087 teenoor die 32 524 op 31 Mei 2012.
In antwoord hierop het die VF Plus gesê die kategorie A en D-reserviste is ʼn foutiewe verwysing aangesien daar sedert 2014 (SAPD Nasionale Instruksie 3 van 2014) slegs kategorie 1- en 2-reserviste is. Volgens hierdie instruksie is kategorie A reserviste, wat operasionele reserviste was, saamgevoeg met die D-kategorie, wat landelike reserviste was, in kategorie 1.
“Die aantal reserviste het in dié tyd dus afgeneem van 50 463 tot slegs 7 089. Dit dien as bewys dat die polisie se beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en die polisie by te staan met polisiëring, vals is,” sê die party.
“Indien die minister en die polisie ernstig was om ondersteuning van die gemeenskap te kry, sou hulle nie van reserviste ontslae geraak het nie, maar sou daar tewens baie meer gebruik gemaak word van reserviste wat juis uit die gemeenskap kom en daarom ʼn belangrike bydrae kan lewer om misdaad te bekamp, sê die VF Plus.



