Hoewel die verslag oor skade aan Parys se stadsaal reeds deur die munisipale bestuur ontvang is, is teen Gazette se druktyd nog gewag vir die bourekenaar en ingenieursverslag oor strukturele skade, voordat besluite geneem kan word of die dorp se stadsaal dalk tydelik onveilig vir gebruik verklaar moet word, aldan nie.
Só het die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, vandeesweek aan Gazette gesê. Verlede week is berig dat terwyl die stadsaal nog op Sondag 27 Januarie oop was vir kiesers om te kon registreer vir die komende provin- siale en nasionale verkiesings, water ten tyde van ’n swaar reënbui in die stadsaal ingestroom het as gevolg van ernstige daklekke.
Daar was veral groot kommer oor die water op die stadsaal se houtvloer wat op plekke tot 3cm diep op die vloer gelê het.
Die vloer het hom vroeër jare uitstekend geleen tot dansvloer.
DA-raadslid, Arnold Schoonwinkel wat diens gedoen het in die stadsaal toe die water ingestroom het, het aan Gazette gesê dat hy twee jaar gelede reeds aan die destydse munisipale bestuurder geskryf het oor die toestand van die Parys-stadsaal, en gevra het dat onverwylde aandag aan die ernstige daklekke gegee moet word.
* Gazette het ook verlede week berig dat die Mosepidi-saal in Tumahole reeds onveilig verklaar is vir gebruik na skade aan die dak sowat ’n maand gelede.



