NewsNews

Kinder noodplasings al meer

Kinder noodplasings al meer

   

 

Terwyl die nood daar buite aan bykans elke deur klop, is ook kinders nie die hartseer en trauma van die ekonomiese en maatskaplike gevolge van ‘n pandemie gespaar nie. Daarvan getuig die nagenoeg tien noodplasings wat al sedert die begin van die inperking in 2020 by die Emunah Foundation in Parys gedoen moes word vir kinders, veral babas, vir wie daar dringend ‘n veilige hawe gevind moes word. Sedert Emunah in Julie ses jaar gelede sy deure in Parys geopen het, het 39 babas hier ‘n tydelike en veilige hawe van liefde in die huis van Collin en Sonja Viljoen gevind. Kinders wat net die skadukant van die lewe geken het. Sommige wie se ouers hulle nie meer wil hê nie.

Ander verwaarloos of mishandel. Geen kind word ooit weggewys nie. Sedert Emunah sy deure op 17 Julie 2015 in Parys oopgemaak het, vervul hulle ‘n groot rol as plek van veiligheid, nie net vir kinders in die groter Parys nie, maar selfs van omliggende dorpe sover as Kroonstad, Potchefstroom en Vryburg. Omdat daar geen staatsubsidie of enige finansiële hulp vir plekke van veiligheid soos die Emunah Foundation is nie, is die opsies baie beperk vir plasing van kinders wat gewoonlik vir ‘n drie maande tydperk onmiddellik gehuisves moet word totdat die wetlike prosedures vir pleegsorg afgehandel is. Eers wanneer ‘n kind in pleegsorg geplaas is, kan aansoek gedoen word vir ‘n pleegsorg toelaag. Pleegsorg prosedures neem somtyds veel langer as drie maande om af te handel, en was daar al selfs ‘n seuntjie wat van geboorte tot ‘n maand voor sy tweede verjaardag by hulle was. Ten spyte van die groot stryd om oorlewing om ‘n huishouding aan die gang te hou en te kan voorsien in die behoeftes van die kinders wat hier geplaas word, is hierdie ‘n taak wat Colin en Sonja voel die Here hulle voor geroep het.

En dit is in die afgelope jare, maar soveel te meer die afgelope maande die gemeenskap van Parys wat hierdie groot liefdesdiens moontlik gemaak het. Mense wat maand na maand help voorsien het in die behoeftes van hierdie kinders – van klere tot mediese sorg. “Emunah Foundation oorleef uit die genade van die Here en die goedheid van mense,” getuig die egpaar. Selfs toe daar nou dringend gesoek moes word na ‘n nuwe heenkome vir Emunah en daar op die nippertjie ‘n huis gekry is toe hul vorige huurhuis in Schilbachstraat verkoop is. Sedert 1 Junie is die Emunah Foundation by Eerstelaan 50, maar is die huurkontrak net vir vyf maande. Vir die egpaar is hul grootste hoop om ‘n borg te kry om die huis te kan koop sodat dit ‘n permanente tuiste kan word, en die babakluis weer opgerig kan word. Die kluis het ‘n alarm wat afgaan sodra ‘n baba in die kluis geplaas word. Tans is daar twee babas in hul sorg.

‘n Dogtertjie van 11 maande en ‘n seuntjie van 13 maande. Die dogtertjie is destyds net twee maande na haar geboorte in die babakluis geplaas. Sy was prematuur met hidrokefalus (‘n waterkoppie). Net ‘n hospitaalnota is saam met haar in die kluis gekry om te sê dat sy geopereer is en ‘n ‘stent’ het om die vog te dreineer. Sy is die Vrydag uit die hospitaal ontslaan en die Saterdag in die kluis gelos. Met liefde en deernis word daar sedertdien na hierdie dogtertjie omgesien wat reeds vroeë tekens van serebrale gestremdheid en epilepsie toon.

Die kanse dat sy aangeneem sal word is baie skraal. Die seuntjie is ook reeds by die egpaar van geboorte. Babas wat in Emunah se sorg geplaas word, kom meestal direk uit die hospitaal en is nie tienerswangerskappe nie. Babas wie se ouers eenvoudig besef hulle kan nie die kindjie versorg nie. So is ‘n baba al op die sypaadjie gekry met net ‘n doeksak. ‘n Kind se hele lewe in ‘n sak gepak.

Meeste van hierdie babas word aangeneem of teruggeplaas by hul ouers, maar elke kind, ongeag hoe lank hul hier vertoef, word soos ‘n eie kind versorg en liefgehê. Collin en Sonja se visie is om ook ‘n traumasentrum hier te kan open by hul perseel in Eerstelaan. En totdat ‘n borg gekry word om die huis te kan koop, wil hulle ook ‘n plan beraam om tydelik ’n mobiele babakluis op te sit.

As jy enige bydrae wil maak, hoe gering ook al – kinderklere, doeke, melk, ‘n kruideniers-koopbewys of selfs wil help met herstelwerk of enigiets anders by Emunah Foundation, kontak Collin by 072 223 7583, of Sonja by 083 696 7410. Bankbesonderhede vir Emunah is: Emunah Foundation NPC, Standard Bank, Lopende Besigheidsrekening, rekeningnommer 042317983, takkode 051001.  

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button