NewsNews

Ramptoestand weer verleng

Glo om bestaande wetgewing verder te versterk

Minister Nkosazana Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Vrydag, 15 Januarie in die Staatskoerant bevestig dat die ramptoestand in Suid-Afrika, wat nou reeds 670 dae duur, tot 15 Februarie verleng word.

Dié besluit is glo geneem weens ʼn behoefte om bestaande wetgewing verder teen Covid-19 te versterk. Hoewel mnr. Cyril Ramaphosa in Desember die Covid-19 inperkingsregulasies verslap het,  is die algehele opheffing van die ramptoestand die afgelope paar maande deur verskeie organisasies en politieke partye bepleit, onder meer omdat dit die ekonomie ondermyn en nie meer benodig word om die virus te bestuur nie.

Die mense wat weens Covid-19 in hospitale opgeneem word is landwyd laag en die immuniteitskoers hoog. Dit kan moontlik aan die inenting of mense wat reeds vorige infeksies gehad het, toegeskryf word. Hoewel die getal gevalle en die positiwiteitskoers hoër was as tydens die tweede en derde vlaag, is sterftes ook nou betreklik laag.

Die Omikron-variant is verder ook nie so ernstig soos die Delta-variant wat die derde virusvlaag aangedryf het nie. John Steenhuisen, leier van die DA en Alan Winde, Premier van die Wes-Kaap, het  ook gesê dat die ramptoestand opgehef moet word. Winde sê die fokus moet nou op werkskepping toegespits word, aangesien duisende werkgeleenthede weens die pandemie verlore gegaan het.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het in November verlede jaar gesê die regering se besluit om die ramptoestand tot 15 Januarie te verleng, kom op magsmisbruik deur die regering neer. Intussen moet ons maar steeds ons maskers dra, ons afstand hou en gereeld ons hande ontsmet.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button