AfriForum teleurgesteld in Ngwathe oor voorstelle
AfriForum teleurgesteld in Ngwathe oor voorstelle

Nie een van die voorstelle wat vroeër deur die burgerregte organisasie, AfriForum, aan die Ngwathe munisipaliteit gemaak is vir sy water- en rioolwerke, is al geïmplementeer, of in die proses om geïmplementeer te word nie. Die organisasie het vandeesweek sy teleurstelling uitgespreek teenoor Ngwathe ná ’n vergadering wat op 21 Januarie met die munisipaliteit gehou is, en waarin dit duidelik was dat die gemeenskap van Parys steeds gebuk gaan onder gereelde waterskaarste.
AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het in September 2021 ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens AfriForum die munisipaliteit met advies sou bystaan om die knellende probleme met water en sanitasie te help oplos. Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het die oganisasie sy deel van die ooreenkoms nagekom en die munisipaliteit van die nodige verslae en aanbevelings voorsien.
“Ons het reeds deurtastende vergaderings met die munisipaliteit gehad en die water- en rioolwerke op verskeie geleenthede besoek. Ons span kundiges het omvattende aanbevelings en ’n veelsydige raamwerk vir ingrypings op die kort-, medium- en langtermyn aan die munisipaliteit oorhandig, maar geen implementering het nog plaasgevind nie,” sê Johan Kruger, AfriForum se hoof gemeenskapsontwikkeling. Kruger sê die gebrek aan fondse en die wil om die verval die hoof te bied is uiters kommerwekkend. “Ons het ’n finale vergadering met die munisipale bestuurder aangevra om die toedrag van sake en dringende aksie te bespreek”.
AfriForum het ook die gemeenskap aangemoedig om by sy plaaslike tak betrokke te raak om ’n verskil te maak. Om betrokke te raak kan mense die woord ‘Parys’ SMS na 45344 (R1).




