News

Sorteer die antwoord vir morsige kopseer

Hou dit eenvoudig en mettertyd sal jy meer vertroud raak met jou eie herwinningsaksie

Waar jy kyk lê oopgeskeurde of uitgegooide sakke se huisafval rond. Meestal die gevolg van informele herwinningsversamelaars, of sommer net sakgrawers, en selfs die munisipale vullisverwyderingsdiens wat nie altyd betyds afval verwyder nie.
Maar dié morsery kan stopgesit word met die hulp van elke huishouding en besigheid in Parys.
Waar begin ons?
Alle afval wat uit huishoudings of besighede kom, is die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit om dit gereeld en spoedig te verwyder.
Die probleem kom egter by die toepassing van plaaslike bywette en die munisipaliteit se verantwoordelikheid in dié verband.
Maar ons kan ook nie net aanvaar dat dit ‘n munisipale probleem is nie. Ja, ons betaal vir ‘n diens wat gelewer moet word, maar soos dit tans daar uitsien, is hierdie ‘n byna onoorkomlike probleem.
Daar is egter planne wat kan help dat die morsery verminder of selfs stopgesit word, sê die Ngwathe Warriors.
Daar is in verskeie dorpe al groot aksies geloods om afval uit huishoudings en besighede te skei in wat herwinbare en nie-herwinbare afval, ook genoem droë of nat afval is. Veral in die Wes-Kaapse munisipale areas word dit met groot sukses toegepas. Dit kom basies daarop neer dat ‘n proses gevolg word waar die nat en droë afval reeds deur huishoudings of besighede geskei word voordat dit op straat geplaas word. Eenvoudiger kan dit nie wees nie. Nat afval in die normale swartsak en droë afval in ‘n gekleurde of deursigtige sak.
Hoe onderskei jy dan wat herwinbaar is en wat nie?
Nie-herwinbare of ‘nat’ afval is gewoonlik
* Kos verwant, rou groente en vrugteskille, verrotte groente of vrugte
* Gaar kosse wat reeds begin verwelk of verrot is.
* Koshouers wat gekontamineer is met olies, of in die gaarmaakproses gebruik is, of as verpakkingsmateriaal gebruik word.
* Houers waarin vis en skyfies en gaar hoenderstukke verpak word. Alle pizza, hamburgers, vetkoeke en ‘n verskeidenheid ander houers vir wegneemetes.
* Servette wat gebruik is, teesakkies, sneesdoekies en baba- en volwasse doeke.
* Die swart voedselhouers waarin ons groente en vrugte meestal verpak word is ook nie herwinbaar nie en kan by die ‘nat’ produkte gevoeg word.
Elke huishouding het ‘n oormaat hiervan wat nie weer benut kan word nie.
Hierdie ‘nat’ of gekontamineerde produkte kan in normale swartsakke gesit word vir die munisipale verwyderaars om te verwyder.
‘n Praktiese wenk om die verniel en uitgooi van afval uit sakke te beperk is om in ‘n kleiner sakkie eetbare voedsel te plaas as jy graag vir iemand wat honger is, iets wil gee. Sodoende hoef daar nie in die vullissakke gekrap te word vir kos nie.
Heelwat van ons dorp se inwoners benut reeds hul groente- en vrugteskille as kompos in tuine. Hieroor sal later meer gesels word.
Herwinbare of ‘droë afval’ is produkte wat deur herwinningsbesighede asook die informele versamelaars of sakgrawers in ons dorp versamel word om weer te benut as nuwe produkte.
Dit kan ook selfs as dieselfde produk weer hergebruik word, deur dit deur ‘n skoonmaakproses te sit.
Die meegaande foto wys van die herwinbare ‘droë afvalprodukte. Dit sluit in verskeie soorte plastiek, papier, glas, staalprodukte, asook motoronderdele en gebruikte elektroniese toerusting.
As eerste stap in elke huishouding en besigheid se eie herwinningsproses word alle ‘droë afvalprodukte’ in ‘n aparte sak geplaas, verkieslik ‘n ander kleur sak as die normale swartsak.
Hierdie droë produkte word in ons algemene gebruik in vyf kategorieë verdeel, naamlik plastiek, glas, papier, metaal en bio-afbreekbare produkte. Vir ons beskeie poging van herwinning kan al hierdie afvalprodukte in een anders gekleurde sak geplaas word.
Dit sal herwinning deur herwinnigsondernemings baie eenvoudiger maak, en die moontlikheid van sakgrawers se uitgooi en laat lê hopelik tot ‘n groot mate beperk.
* ‘Droë afvalprodukte’ kan uitgespoel en droog gemaak word voordat dit in die gekleurde sak geplaas word.
* Glashouers en bottels moet nie gebreek word nie. Dit is egter nie noodsaaklik nie.
* Blikkies kan inmekaargedruk word
* Plastiek bottels se proppe wat ook herwinbaar is, moet verwyder word – dit maak die inmekaar druk van plastiekbottels makliker.
* Kartonne en bokse kan kleiner geskeur word.
Al hierdie kan gedoen word sodat meer droë afval in jou gekleurde sak geplaas kan word.
Ngwathe Warriors gaan deur verskeie aksies poog om die versamelaars waar moontlik, bewus te maak oor die herwinning van genoemde produkte.
“Ons weet dit gaan nie oornag verander en die nodige suksesse behaal nie,” sê Braam Cilliers van die Ngwathe Warriors, maar dit kan reeds ‘n groot verskil maak,” sê hy.
Mense kan self ook hul afval plastiek, glas, papier, metaal en bio-afbreekbare produkte in aparte houers of sakke skei, as jy sou wou.
Maar, sê Braam, wees versigtig om as wegspring in hierdie proses nie té veel produkte te identifiseer en te skei nie.
“Hou dit eenvoudig en mettertyd sal jy meer vertroud raak met jou eie herwinningsaksie. Gee dit kans vir ‘n week of twee en kyk hoe die proses self sy loop neem,” is sy raad. Die Ngwathe Warriors sal op ‘n gereelde basis inligting oor herwinning deurgee, en is die hoop dat as meer mense help om te sorteer, dit ook die morsery sal minder maak. *Inligting verskaf deur die Ngwathe Warriors.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button