Meer, groter, beter – Nampo
Die Oesdag word gereken as een van die grootste vertoonvensters van die landboubedryf met van die nuutste en modernste tegnologie en indrukwekkende demonstrasies wat hier gesien kan word.

Trek jou tekkies aan, kry jou kaartjie en gaan beleef vanjaar se Nampo-skouspel wat beloof om alle verwagtinge te oortref. Die Nampo Oesdag het vandag, Dinsdag 16 Mei begin, en duur tot 19 Mei op die Oesdagplaas net buite Bothaville. Al het die weer vanoggend dreigend gelyk,, is Oesdaggangers vroeg reeds met ‘n heerlike sonskyndag beloon.
Sedert sy ontstaan word Nampo beskou as een van die grootste vertoonvensters van die land met meer as 800 uitstallers wat vanjaar op die terrein sal wees. Die 2023 tema is ‘Innoverende Landou’ en sal van die nuutste tegnologie, masjinerie, uitvindsels en meer hier ten toon gestel word.
Naas verskeie uitstallers wat hul uitstalruimtes uitgebrei het, is daar ook nuwe wapens- en buitelugklere uitstallers. Selfs die kosstalletjies is uitgebrei en nuwe buite-uitstalruimtes aan die suidekant van die terrein aangebring, asook ‘n splinternuwe koffiekroeg.



Oesdaggangers kan ook uitsien na nuwe geplaveide paaie en ‘n eksklusiewe restaurant waar uitstallers hul kliënte kan trakteer.
Naas die vele uitstallers is daar ook die altyd gewilde demonstrasies waaronder ook 4 x 4, en die Boerepatentekompetisie waarmee deelnemers met al wat vindingryke plan is vorendag kom.



Vir die vroue word daar oudergewoonte weer spesiaal voorsiening gemaak met ‘n propvol en opwindende vroueprogram.



