Local newsNews

Ruan roerend gegroet

"Ek verjaar nie meer nie, het Leatitia gesê - hierdie dag is nou vir Ruan."

Familie en vriende van die 28-jarige Ruan Van Loggerenberg wat Saterdag 6 Januarie in ‘n motorongeluk op die Greenlandspad net buite Vredefort gesterf het, het die afgelope week op sy ma, Leatitia se verjaardag afskeid geneem van ‘n kind, broer, skoolmaat, vriend, kollega en familielid wie se glimlag en vriendskap diep spore in baie harte gelaat het.

In ‘n roerende boodskap by die gedenkdiens wat Vrydag 12 Januarie vir Ruan in die NG Moedergemeente gehou is, het ds. Ian Jonker gesê “daar is mense by ons wat net sulke spesiale mense is. Ruan was so ‘n spesiale mens. ‘n Mooi jongman, vriendelik en iemand wat ander met respek behandel het. Iemand wat ‘n kosbare humorsin gehad het.”

“Waar ek ookal was, Ruan het gestop om te groet. Hierdie leë plek voel onmoontlik. Daar is soveel dinge om ons wat ons aan Ruan herinner. Dit is nie net die familie wat seer het het nie. Daar is ‘n groot klomp mense hier met ‘n stuk seer. Sy vriende, sy werksmense… ”

Ds. Jonker het in sy boodskap uit Genesis 37 en 45 die verhaal van Jakob vertel nadat Josef se broers hom vertel het dat Josef dood is. Dit wat ek in Jakob se verhaal lees, het ek ook by julledie afgelope week gesien toe ek met julle praat, het ds. Jonker aan Ruan se familie gesê, toe hy verwys het na die teksgedeelte waar Jakob gesê het hy sal bly treur oor sy seun tot die dood.

In sy troosboodskap het ds. Jonker gesê: “Kom ons hardloop na die Here toe, kom ons gaan kruip weg by die Here. Ek weet daar is niks wat ek vandag kan sê wat hierdie seer kan beter maak nie. Ek kan niks doen om dit te verander nie. Daar is geen plan wat ek het om die seer sagter te maak nie, maar ek ken Jesus wat kan. Hy kan ons vashou. Kom ons kom staan stil by Jesus, en roep hom aan. ”

“Jakob se verlang was nie soos iemand wat dink alles is nou verby nie. maar soos iemand wat weet dat hy sy seun weer sou sien. Dit sal wonderlik wees as Ruan se lewe ook vandag waar ons afskeid neem van hom , kan bydra dat iemand by die Here kan kom.”

Ds. Jonker het die diens afgesluit met die seëngroet wat ook gelees was met Ruan se belydenisaflegging.

‘n Kruis is Saterdag deur Ruan se familie en vriende op die ongelukstoneel geplaas.

Familie en vriende by die kruis wat Saterdag langs die Greenlandspad opgesit is waar die ongeluk gebeur het wat die lewe van die 28-jarige Ruan van Loggerenberg ge-eis het.
Ruan se ma, Leatitia en sy ouer broer, Rechard.

Ruan was ‘n oudleerder van Hoërskool Parys en het op 26 Julie 2018 by Senwes Parys begin werk. Aanvanklik het hy in die store gewerk, en toe later verkope klerk in die winkel geword.

Einde 2023 is hy bevorder, en het enkele dae voor sy dood op 2 Januarie in die pos as stoorbestuurder begin.

Voordat Ruan by Senwes gewerk het, het hy ook vir ‘n tyd kontrakwerk vir ‘n instandhoudingsmaatskappy gedoen en by Aquawin gewerk.
“Hy was ons familie en sy vriende se sonskyn. Altyd gereed met ‘n glimlag. Die lojaalste en liedevolste mens,” het Leatitia haar jongste beskryf. Sy het vertel van sy groot liefde vir diere, en dat sy diere en vriende ‘n groot deel van sy lewe was.


“Ek verjaar nie meer nie, het Leatitia gesê – hierdie dag is nou vir Ruan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button