Ses en twintig mans en ses vroue onder oorledenes van George-bouramp
Soektog duur voort
Die George Munisipaliteit het vanmiddag in ‘n verklaring bekendgemaak dat van die 32 oorledenes van die George-bouramp, 26 mans en ses vroue is. Twaalf mense wat uit die puin gered is ontvang steeds behandeling in hospitale, terwyl nog gesoek word na 20 mense.
Die reddingsoperasie is reeds agt dae aan die gang waartydens nooddienswerkers en ander rolspelers al vir 190 uur aaneen op die perseel in Victoriastraat is na die inploffing van die halfvoltooide gebou verlede Maandag.
Die munisipaliteit het ook bevestig dat daar na ‘n vroeëre oproep om hulp, intussen genoeg professionele beraders gekry is wat die tale Chewa, Portugees en Shona magtig is, om die oorlewendes en families van oorledenes by te staan.
Daar word ook gepoog om die identifisering van oorledenes te bespoedig. Ses van die oorledenes is reeds positief uitgeken.
- Daar is na die publisering van hierdie berig nog ‘n liggaam van ‘n manspersoon in die puin gevind. Daar word nou nog na19 mense gesoek op die bouperseel.



