Local newsNews

Ma kry uiteindelik heupprostese drie jaar na bromponie-ongeluk

Nooit weer sal sy die luuksheid hê om 'n mooi paar skoene op 'n winkelrak te kies nie.

Willemien Landman is by haar kinders. Dit gaan goed met hulle ten spyte van omstandighede. Drie jaar van pyn, sukkel en swaarkry het verloop na daardie dag toe haar lewe van haar gesteel is met ‘n bromponie-ongeluk in Desember 2021 op die hoek van Wes- en Derdelaan in Parys.
Na maande se wag het sy die heup-vervanging gekry wat tussen haar en ‘n kans om weer normaal te kan beweeg gestaan het, maar daar lê ‘n moeilike en onseker pad voor.

Nooit weer sal sy die luuksheid hê om ‘n mooi paar skoene op ‘n winkelrak te kies nie. Vir die jong ma van drie is haar verlies veel meer as die 10cm wat haar regterbeen nou korter is as haar linkerbeen, Na maande in die hospitaal is sy gelaat met meer vrae as antwoorde.

Willemien was 45 toe die ongeluk gebeur het. Sy was af die dag. ‘n Hele naweek was beplan wat sy tyd saam met haar kinders sou spandeer. Sy moes net ‘n verwysingsbrief by Parys-hospitaal gaan oplaai. Toe gebeur die ongeluk wat haar lewe handomkeer verander het toe ‘n motoris haar bromponie gestamp het. Haar bobeen, pelvis en knieskyf is in die ongeluk gebreek. Sy is van Parys na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad oorgeplaas. ‘n Hospitaalbed waar sy vir twee maande gelê het voordat sy die eerste keer geopereer is.

Die breuk aan haar been kon nie herstel word nie, omdat die regte grootte prostese nie by die staatshospitaal beskikbaar was nie. Verskonings op verskonings het gevolg wat verhinder het dat sy weer geopereer kon word. Telkens is sy vir die teater voorberei, maar moes dan op die nippertjie hoor die operasie is uitgestel. Sy het infeksie in haar wond gekry. Toe begin die stryd om elke keer die wond in die teater skoon te maak. Later was daar selfs sprake dat haar been geamputeer sou word. Vergeefs is probeer om haar van die Boitumelo-hospitaal oorgeplaas te kry sodat sy die mediese sorg kon hê wat sy nodig gehad het.

Maar opgee was vir dié enkelma nooit ‘n opsie nie. Haar onwrikbare wil om weer te kan loop en by haar kinders te wees, het haar gedra in die alleen maande van ontnugtering en loutere hel waardeur sy moes gaan.

Toe sy uiteindelik danksy ingryping van ‘n professor van die Universitas-hospitaal van Boitumelo na Pelenomi hospitaal oorgeplaas is met ‘n beentraksie en ‘n septiese oop wond, moes sy vir twee dae op ‘n matras in die gang lê. Daar was nie beddens beskikbaar nie.

Weer was dit die lang wag om teater toe te gaan en moes haar femur-kop uiteindelik afgesny word weens die skade van die infeksie. Later is sy oorgeplaas na Universitas en is sy vir die eerste keer sedert die ongeluk uit haar hospitaalbed gehelp om in ‘n stoel te sit. Bykans ‘n jaar later kon sy danksy fisioterapie haar eerste wankelrige tree gee sodat sy vir drie weke kon huis toe gaan. Die eerste keer in nege maande wat sy by haar kinders kon wees.

Maar dit was ook die eerste keer dat sy die volle omvang van die skade aan haar been moes hoor wat grotendeels die gevolg was van die langdurige infeksie, herhaaldelike skoonmaak van die wond en behandeling wat ver te kort geskiet het vir wat sy nodig gehad het.

Van haar beenspiere is afgesny en haar regterbeen was nou baie korter as haar linkerbeen. Maand vir maand is sy terug na Pelenomi-hospitaal in die hoop op ‘n heupvervanging en die kans om moontlik weer te kon loop. Telkens is sy huis toe gestuur sonder ‘n operasiedatum.

“Dit is vir my bittter. Ek gaan nooit weer wees wat ek was nie,” sê Willemien met pyn in haar oë. Dit nadat daar aanvanklik na die ongeluk net skroewe en ‘n prostese ingesit sou word. “Maar ek moet hierdeur,” sê Willemien, “vir my kinders.”

Volgende week moet sy weer die urelange rit vanaf Vanderbijlpark waar sy nou by vriende woon, aanpak Bloemfontein toe vir ‘n opvolgondersoek. Steeds weet sy nie wat die pad vorentoe vir haar inhou nie, of wat die uitkoms na die heupvervanging is nie.
Haar pyn is baie, ook in haar knie en enkel.

“Mens voel moedeloos, nuttteloos. Ek dink na die maande se baklei en aanhou vra, het die dokters moeg geword en my gehelp. Jy wil nie weet hoe bly ek was toe ek uiteindelik hoor die heupvervanging sal gedoen word nie. Tog het dit na ek die nuus gekry het, nog vyf maande geduur voor die operasie gedoen is, maar my trane was nie verniet nie.”

So eis jy van die padongelukfonds
Enigeen kan van die padongelukfonds eis mits aan die kriteria voldoen word – selfs voetgangers, maar daar is
uitsluitingsklousules.

Die padongelukfonds word onder meer befonds deur ‘n deel van die brandstofheffing wat Suid-Afrikaners
betaal.

Jy kan self direk van die fonds eis of deur ‘n agent of prokureur. Sou jy wel van ‘n prokureur gebruik maak, maak seker dat die persoon kennis van die Padongelukfonds het.

Dit is veral belangrik dat jy seker maak van die verjaringsdatum van die eis. Mense met bestaande eise teen die Padongelukfonds kan die inbelsentrum by 087 820 1111 skakel om navraag te doen oor eise wat ingedien is. Jy kan ook die webtuiste raf.co.za besoek om vorms, meer inligting oor die eisprosedure en kontakdetail te kry

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button