Local news

Meneer die matrone

Hulle noem hom matrone – ’n man wat leef vir sy beroep en met ’n  onblusbare passie om mense te verpleeg – selfs nog op die rype ouderdom van 75. Sybrand de Beer se outobiografie, “Hulle noem hom matrone”, het einde verlede jaar  die lig gesien en sal jou van begin tot einde boei met …

Hulle noem hom matrone – ’n man wat leef vir sy beroep en met ’n  onblusbare passie om mense te verpleeg – selfs nog op die rype ouderdom van 75.
Sybrand de Beer se outobiografie, “Hulle noem hom matrone”, het einde verlede jaar  die lig gesien en sal jou van begin tot einde boei met sy pennevrug as die man wat in 1976 hom as eerste manlike matrone, maar ook as eerste vroedmeester in Suid-Afrika bekwaam het.
’n  Man wat die weg gebaan het vir sy geslagsgenote in ’n  beroep wat aanvanklik oorwegend gereserveer was vir die vrou.
Maar hierdie merkwaardige man se voetspore het ook ’n  draai in Parys gemaak toe sy ouers destyds na die dorp getrek het toe hy ongeveer 5 jaar oud was.
Tot en met standerd 6 het hy hier skoolgegaan waarna die gesin Brakpan toe verhuis het.
In standerd 8 het hy en ’n  vriend by die Johannesburgse Algemene Hospitaal gaan werk nadat die vriend se ma wat toe matrone by die Verre Oos-Rand hospitaal was, hulle gemotiveer het om op die manier ’n  ekstra geldjie te gaan verdien.
Min wetend dat hierdie vir hom ’n  loopbaan sou word in wat toe nog beslis nie ’n  man se wêreld was, het Sybrand die werkery by die hospitaal terdeë geniet en was dit dan ook die logiese rigting om in te slaan toe hy middel standerd 9 weens omstandighede die skoolbanke vaarwel moes roep.
Hy het sy opleiding by Johannesburg Algemeen gekry en is daarna na die Mynhospitaal, maar selfs ’n  wagtydperk van meer as ’n  jaar om die vereiste ouderdom te wees van 21 om te kon registreer by die SA Verpleegstersraad, het dié jong gemotiveerde verpleër nie afgesit nie. Op sy 21ste verjaardag is hy inderdaad Pretoria toe om te gaan registreer.
Dit het die kroon gespan op sy toewyding om klasse by te woon, te studeer en te werk dikwels onder moeilike omstandighede en met buitengewone en lang ure.
Op 19 Januarie het Sybrand 75 geword, en steeds is die afgetrede matrone, in aanvraag by hospitale waar hy aflos.
Maar dalk sal hy nou begin hokaai roep, skerts Sybrand.
Sybrand vertel dat hy lankal plan gehad het om oor sy wedervaringe in die verpleegberoep te skryf.
En so is daar oor vyftien jaar,sommer “van altyd af” dagboek gehou. Tussendeur het die notas maar oor jare weggeraak, maar was die voltooiing van die outobiografie oor sy loopbaan uiteindelik die viering van die hoogtepunte in sy merkwaardige loopbaan.
In Januarie het Sybrand in Parys by ousus Tina Supra gekuier vir haar 85ste verjaardag en trek sy hart nog ’n  punt na Tina, Susan Muller en die familie en vriende hier in Parys. Sy boek is dan ook opgedra aan sy susters, Jeanette, Tina en Yda.

Related Articles

Back to top button