So amper ‘n 100 vir oud-juffrou
"Ek is baie geseënd en gelukkig om hierdie ouderdom te bereik," sê sy.

Haar helderblou oë kan jy nie miskyk wanneer jy Vi Malan – Sally Martin Park se oudste inwoner, in die gange sou raakloop nie. Altyd besig om te help, of deel te neem aan die een of ander aktiwiteit. Of daar Me- lodrama gehou word, of kaartjies verkoop moet word by die deur vir die tehuis se ‘Kindervreugde’ projek. Selfs in die tehuis se biblioteek het sy haar kant gebring om boeke te pak.
En wanneer dit verkiesingstyd was, was sy as DA-skakelbeampte die een wat help om bejaardes by die stembus te kry.
Vir haar kan jy deur ‘n ring trek – pynlik netjies en altyd op haar pos met daardie kenmerkende glimlag wanneer sy jou groet.
Op 19 Maart het die inwoners van Sally Martin Park haar 99ste verjaardag saam met haar gevier.

Vi Malan saam met nog een van Sally Martin Park se inwoners, Cathy du Plessis.
Vi Malan is in 1924 as die jongste van vier kinders gebore. Haar ma was ‘n Suid-Afrikaner, terwyl haar pa in die 1890’s van Engeland na Suid-Afrika geëmigreer het.
Sy het in Oos-London grootgeword. Haar pa is oorlede toe sy nog baie jonk was, en het haar gehoorgestremde ma haar en haar twee susters en broer alleen grootgemaak.
Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, studeer sy onderwys en ontmoet die liefde van haar lewe in Queenstown waar albei skoolgehou het. Uit hul huwelik is twee seuns gebore – Rian en Neil Malan.
In Julie 1993 koop sy en haar man een van die eerste huise by Sally Martin Park. Haar suster het Sally Martin, na wie die tehuis vernoem is, persoonlik geken, en het Vi later ook die voorreg gehad om Sally te ontmoet.
Sedert hulle by Sally Martin Park ingetrek het, was sy betrokke by verskeie komitees en het sy die oord oor die jare sien ontwikkel.
Op haar ouderdom neem sy selfs nog deel aan die oefeninge vir bejaardes wat by die tehuis aangebied word, en was sy vir baie jare ook kassier by die Houtlepel.
Vir haar is betroubaarheid en vriendskap ewe belangrik As sy ‘n boek kan lees en goeie vriende om haar het, is sy op haar gelukkigste.





