Local news
Polisiebeampte en passasier sterf tragies in botsing op ongelukstoneel
Polisie ondersoek klagte van strafbare manslag na die dood van 'n polisiebeampte en 'n vrou op 'n botsingstoneel.

‘n Polisiebeampte en ‘n vrou wat ‘n passasier in ‘n voertuig was, het gister, Maandag 17 April in ‘n sekondêre botsing gesterf toe ‘n vragmotor deur ‘n botsingstoneel op die N1 sowat 15km buite Kroonstad gebars het.
Polisiewoordvoerder, sers. Mahlomola Kareli, het bevestig dat die polisie in Kroonstad omstreeks 18:15 die noodoproep van die ongeluk gekry het wat op die N1 in die rigting van Ventersburg na Kroonstad gebeur het. Fezile Dabi Distrik se hoofwegpatrollie lede is na die toneel waar twee voertuie, ‘n wit Ford Ranger bakkie en ‘n Volvo vragmotor gebots het. Niemand is in dié botsing beseer nie.
Terwyl lede die verkeersbeamptes gehelp het om die verkeer op die toneel te reguleer waar die wrakke nog in die pad was, het ‘n wit Isuzu vragmotor deur die ongelukstoneel geploeg en is ‘n 37-jarige polisiebeampte, asook ‘n 34-jarige vroulike passasier wat oënskynlik in die Ford Ranger was, noodlottig beseer.
Die polisie ondersoek twee klagte van strafbare manslag. Met die skryf van hierdie berig is daar nog geen arrestasie gemaak nie.
Luitenant-generaal Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris van die polisie in die Vrystaat, het na die tragiese voorval gesê dat wanneer polisiebeamptes hul huise verlaat om aan te meld vir diens, is daar altyd die moontlikheid dat hulle nie weer hul geliefdes sal sien nie. “Die realiteit van wat gisteraand gebeur het, het ons plat geslaan. My innige medelye aan die geliefdes, vriende, familie en kollegas van die sersant, asook die onskuldige lid van die publiek wat in die voorval gesterf het,” is gesê

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



