100 jaar met basaarlekkerte en reünie-kuier gevier
Om destyds vir die kerkgebou te kon betaal, moes lidmate vir hul sitplekke opdok. Nader aan die kansel was die banke duurder as verder weg!


Vredeforters het Saterdag behoorlik die feesvure gestook vir die 100 jaar viering van die NG-gemeente se sandsteen kerkgebou.

Vroegdag al was dit die ene voete op die kerkterrein met die geur van gebraaide wors en sosaties wat swaar in die lug gehang het. Al wat basaar-lekkerte was, was op die tafel, die springkastele vol lug gepomp en die jonges reg vir die dag se sports.
Daar’s kruiwa gestoot, eier-in-die-lepel geloop, en driebeen-resies gehou.











Die afgelope naweek se 100 jaar makietie, was presies dag en datum 100 jaar na die inwyding van die kerkgebou destyds die naweek van 27-29 April 1923. Die kerk se hoeksteen is 13 April 1922 gelê. Vandag, ‘n eeu later, trek die sierlike gebou tussen 200 Iceberg rose, en sy pastorie in kenmerkende Kaaps Hollandse styl, besoekers steeds soos ‘n magneet aan. Die gemeente self is 141 jaar oud.
Om destyds vir die kerkgebou te kon betaal, moes lidmate vir hul sitplekke opdok. Nader aan die kansel was die banke duurder as verder weg!
Die beraamde koste van die gebou, wat 1 100 mense kan huisves, was £16 000. Gemeentelede het help bou en klippe kap, wat ookal nodig was om die gebou opgerig te kry.
Tannie Bettie Saayman, een van die dorp se inwoners en ook die oudste lidmaat van die gemeente, onthou nog hoe haar pa, Koos van Tonder, gehelp het om met ‘n ossewa die sandsteenblokke vir die kerkgebou aan te ry. Haar pa en ma is in die kerk getroud. Ook hul kinders en kleinkinders is hier gedoop.
Tannie Bettie was deel van die groep oudleerders van die dorp se Chris van Niekerk skool wat die afgelope naweek kom deel het in die kerk se feesvieringe en terselfdertyd sommer ook reünie gehou het.

Van oral het oudleerders en oudonderwysers gekom, memorabilia en foto’s gebring en ‘n hond uit ‘n bos gekuier.
Tannie Bettie het in 1957 aan die skool gematrikuleer en was ook die oudste van die oudleerders by die reünie-fees.



Oudonderwysers wat die feesvieringe bygewoon het is van links voor Miekie Steenkamp, Willie de Vries, Marina de Vries, Marléne Brüssow, Erna Rademan en Corlia Wentink. Agter is Krimpie du Preez n Pula van Niekerk.

Van die 1957 tot 1963 matrikulante wat die feesvieringe bygewoon het.


Die boonste foto’s is van Chris van Niekerk se matrikulante van 1964 tot 1975

Matrikulante van Hoërskool Chris van Niekerk van 1976 tot 1985.

Van die skool se oudhoofseuns, hoofdogters, onderhoofseuns en onderhoofdogters.

Sondag is die feesvieringe voortgesit met ‘n vreugdevolle feesdiens wat die gemeente se orrelis, Erna Rademan, saam met prof. Sybrand Strauss en dr. Roelf Pienaar saamgestel het.
‘n Uitsonderlike musikale belewenis wat ook die optrede van die Deo Gloria-koor en Carlo Wright en Carel en Carla Steyn op trompet en dwarsfluit ingesluit het.
‘n Luisterryke geleentheid wat die naweek op ‘n hoë noot afgesluit het. Kyk ook op www.parysgazette.co.za vir nog foto’s.



