| NAMPO 2023, wat verlede week deur Graan SA naby Bothaville in die Vrystaat aangebied is, was die NAMPO van ouds wat die landbougemeenskap van Suid-Afrika oor die afgelope 55 jaar leer ken en waardeer het.
Met 81 945 besoekers vanjaar was dit weer eens ‘n toonbeeld van innovering deur die graanwaardeketting maar ook die Suid-Afrikaanse landbousektor as geheel. Ruim geleentheid is gebied vir gesprekvoering, interaksie met die 823 uitstallers en ‘n geleentheid vir families om landbou in ‘n veilige, gasvrye omgewing te geniet. Nagenoeg 200 vliegtuie en 75 helikopters het gedurende die week op NAMPO Park se aanloopbaan geland.
Volgens dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA is die hoofdoel met NAMPO om waarde terug te gee aan hul lede, die graanwaardeketting en die hele landbousektor. “Die bywoningsyfers is ‘n indikator van landbou se relevantheid, maar dit is belangriker dat die regte voete hier was – en die uitstallers se tevredenheid bevestig dit, want die regte voete lok weer die regte uitstallers.
“Dit is ook verblydend om te sien watter alternatiewe vir die kwessie van die liggingsdifferensiaal by NAMPO te sien was. Dit wys jou dat met tegnologie as vertrekpunt daar dikwels ‘n oplossing vir ‘n uitdaging soos die differensiaal of graangradering is,” het Taljaard bygevoeg.
Volgens dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering, het beurtkrag soms uitdagings meegebring, maar hulle kon dit bestuur en sodoende sorg dat ander noodsaaklike dienste, soos water en riolering op die terrein, normaal voortgaan. “NAMPO Park het weer sy staal gewys as ‘n skouterrein wat ingerig is om dié volume uitstallers en besoekers goed te hanteer,” het Strydom gesê.
NAMPO se voorsitter, Danie Minnaar, reken dit is ‘n unieke besigheidskou maar ook met ‘n sterk familiekarakter. “Kyk net om jou rond op die park. NAMPO is ‘n gefokusde besigheidskou, maar dit word aangebied op ‘n familievriendelike terrein. Dit is vir ons kosbaar.” Minnaar het sy waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap van Bothaville en omgewing vir hul bereidwilligheid en ondersteuning om die skou jaarliks aan te bied. Hy sê NAMPO bring plaaslike gemeenskappe bymekaar.
Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het NAMPO op Vrydag, 19 Mei besoek. Gedurende ‘n vergadering met georganiseerde landbou en die Vrystaatste LUR vir landbou en plaaslike ontwikkeling, het minister Didiza gesê landbou het danksy NAMPO ‘n tuiste in die Vrystaat gevind. Sy het afgevaardigdes aangeraai om gebruik te maak van die vergelykende ekonomiese voordele wat NAMPO bied.



Graan SA trek nuwe baadjie aan
Graan SA het op die eerste dag van NAMPO ‘n nuwe korporatiewe identiteit en logo vir die groep bekend gestel. Die nuwe logo bevat die wiskundige “≥”-teken wat impliseer dat die organisasie se lede saam sterker is as die enkele stem. Dié verenigde stem resoneer egtheid en relevansie en die nuwe logo spreek van die dinamika van graan- en oliesadeproduksie in Suid-Afrika.
“Graan SA was nog altyd ‘n dinamiese organisasie en dit is belangrik dat ons nou aanpas by veranderende tye om relevant te bly vir alle graanprodusente van Suid-Afrika,” het Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, tydens die bekendstelling gesê. Hoewel die nuwe logo tydens NAMPO op die terrein gepryk het, sal dit oor tyd ingefaseer word.
Bly ingeskakel
Die NAMPO-toep, wat hierdie jaar besoekers die geleentheid gebied het om uitstallers te soek, na stalletjies te navigeer en produkte en spesiale aanbiedinge na te vors, sal lewendig bly met relevante uitstallersinligting, sowel as virtuele toere van die 2023 NAMPO stalletjies.
Vooruitsigte vir 2024
Die skoudatums vir volgende jaar is reeds op 14 – 17 Mei 2024 vasgestel. Graan SA beoog om aandag te skenk aan die volgende sake:
- Verbetering van die vloei van toegangsbeheer by die hekke in terme van die kaartjiestelsel.
- Fokus opnuut daarop om uitstallers en besoekers se NAMPO-ervaring beter te maak deur die verdere aanwending van tegnologie en verbetering van die park se infrastruktuur.
- Graan SA is tevrede met die huidige getal uitstallers en wil eerder deurlopend toesien dat die verskeidenheid van uitstallers relevant bly.
- Bevorder die gebruik van NAMPO Park as besigheidspark se geboue en fasiliteite regdeur die jaar.
Die ander NAMPO-skoue wat onder Graan SA se vaandel aangebied word in 2023, is NAMPO Kaap (13-16 September in Bredasdorp) met ‘n wintergraanfokus; NAMPO Alfa (12-14 Oktober op NAMPO Park) met ‘n fokus op lewende hawe, jag en buitelewe; en die OFM NAMPO Park Kersmark (1-2 Desember op NAMPO Park). Meer inligting is aanlyn beskikbaar by nampo.co.za. |