Local news

Vredefort Hartshuis – waar gebrokenes weer heel word

Die Vredefort Hartshuis het vrywilligers wat help met die sorg van die inwoners.

Die Vredefort Hartshuis het in Junie 2021 huis geword vir ses hawelose bejaardes. Vandag huisves
die Vredefort Hartshuis altesaam 95 inwoners.

Die oorsprong van die Hartshuis kom ‘n lang pad. In 2001, drie en twintig jaar gelede, is die
organisasie, Young World Educare, geregistreer by die Departement van Maatskaplike ontwikkeling
vir die uitreik na haweloses en veral straatkinders.

Zuannè-Marié Joubert, eienaar van die Hartshuis, sê toe hulle met die organisasie jare gelede in
Sunnyside, Pretoria begin het, het hulle baie hartseer dinge waargeneem.

“Minderjarige mammas wat bedwelmd hulle lywe op straat verkoop en kinders so jonk soos sewe
jaar oud wat gom snuif en op sypaadjies voor vensters styf teen mekaar slaap. Mammas wat in
bordele werk en ouers wat nie geld het nie.”

Vir diegene wat gaan werk soek het, het hulle ‘n gratis kleuterskool begin om vir die kinders beter
omstandighede en ‘n toekoms te bied.

“Kindermishandeling in alle vorme, fisies, seksueel en emosioneel is die redes waarom kinders hulle
ouerhuise verlaat en op straat beland. Ons teiken vir die uitreiking was straatmense.”

In 2020 tydens die Covid-pandemie moes alle besighede hulle deure toemaak. Dit het kleuterskole
ingesluit.

“Die Raad vir Bejaardesorg in Pretoria en die Department van Maatskaplike Ontwikkeling het gevra
dat ons die klaskamers van ons kleuterskool tydelik omskep in kamers vir hawelose bejaardes wat uit
die hospitaal kom en nêrens het om heen te gaan nie. Hulle kon nie weer op straat gelaat word nie.
Ons het ses oumense in Pretoria ingeneem,” vertel Zuannè-Marié.

In Januarie 2021 was hulle toegelaat om weer die kleuterskool te bedryf, maar die klaskamers was
vol oumense.

“Die Departement kon ons nie help om die oumense wat net SASSA inkomste kry, uit te plaas na
ander akkommodasie wat bekostigbaar was nie. Ek het na ‘n huis begin soek om hulle te akkommodeer. Ons het vir ses maande lank vir hulle gesorg en na hul welsyn omgesien.”

Daardie tyd was Zuannè-Marié ‘n verpleegster by ‘n bekende internasionale rehabilitasiesentrum in
die Kaap.

“Nhlanhla (Lucky) het self die kleuterskool en die versorging vir die bejaardes behartig. Met my
inkomste het ek gekwalifiseer vir ‘n bedrag om ‘n huis te koop. Huise in Pretoria is duur, maar in
Vredefort, waar my ouers woon, het ek ‘n bekostigbare vier slaapkamer huis met ‘n groot erf
gekoop. Die ses bejaardes, saam met Lucky, het Vredefort toe getrek. Dit was ongelukkig die einde
van ons kleuterskool. Ons het onlangs al die toerusting aan ‘n behoeftige skooltjie in Vredefort
geskenk.”

Zuannè-Marié gaan voort om te sê hulle het in Februarie 2022 vir Armand Hofmeyr gevra om by die
Vredefort Hartshuis op te tree.

“Sowat 300 mense het die konsert bygewoon en dit was die begin van die Hartshuis se bekendheid
vir versorging van bejaardes wat net ‘n SASSA inkomste ontvang. In Junie 2022 het Dankie Lotto Land
‘n draai by ons kom maak. ‘n Stewige hupstoot van R100 000 om nano-houthuisies op te rig en R120
000 se meubels vir die huisies het die hele land bewus gemaak van ons dienste.”

Versoeke vir blyplek van desperate bejaardes en gestremdes het van oral af ingestroom. Hulle het vinnig uitgebrei.

Tans het die Hartshuis 95 inwoners, die Parys Hartshuis huisves agt selfversorgende bejaardes en die sorghuis vir tieners het ook agt inwoners. Daar is 40 vrywillige werkers wat skofte werk, 14 dae van ‘n maand vir ses ure van die dag. Die totale nano-houthusies is 44. Daar is tans 12 kinders, die meeste bly daar saam met hul ouers.

“Van die tieners is al van Pretoria se tyd af saam ons. Daar is ‘n tiental van die kinders waarmee ons 20 jaar terug gewerk het waarmee ons vandag nog kontak het. Hulle is nou in hulle twintigs en dertigs en het kinders van hul eie. Dit was ‘n lang opdraande pad tot waar ons nou is en steeds is daar uitdagings, dit is maar hoe die lewe is. Die Hartshuis vervul ‘n groot behoefte na bekostigbare behuising en versorging van bejaardes en gestremdes. Meer en meer oumense beland op straat”, sluit Zuannè-Marié af.

Die NPO Young World Educare hanteer die opleiding van die versorgers en die vrywilligers lewer ondersteunende dienste by die Hartshuis wat geregistreer is as ‘n Toevlugsoord NPC by CIPC.

Inwoners van die Vredefort Hartshuis.
‘n Nano-houthuisie by Vredefort Hartshuis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button