Local newsNews

AfriForum positief oor Ngwathe se pad vorentoe

"Dis waar dat die gemeenskap al vuisvoos is, maar die munisipaliteit werk nou saam met AfriForum en ander gemeenskapsorganisasies om die probleme die hoof te bied," sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die burgerregte organisasie AfriForum sê sy vergadering met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit verlede week, was die eerste keer dat die organisasie tevrede was met die vordering wat gemaak is, en hy positief is oor die pad vorentoe. Die organisasie sê verder dit lyk of die nuwe munisipale bestuurder, Dr Futhuli Mothamaha, dit sy taak maak om veral die water situasie in Parys ten goede om te keer.

“Dis waar dat die gemeenskap al vuisvoos is, maar die munisipaliteit werk nou saam met AfriForum en ander gemeenskapsorganisasies om die probleme die hoof te bied,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. Verskeie diensleweringsprobleme in Parys, en die vordering wat daarmee gemaak is, is tydens die vergadering bespreek.
AfriForum sê in sy verklaring dat die munisipaliteit onder meer ingestem het om ‘n direkte kommunikasielyn te hê, met vergaderings met gemeenskapsorganisasies wat voortaan tweeweekliks gehou sal word om diens-leweringskwessies te bespreek.
Organisasies soos Metsi Pompong en Save Ngwathe sal aan die vergaderings deelneem, en saam met AfriForum met die munisipaliteit in gesprek tree oor diensleweringsprobleme.

Die burgerregte organisasie het ook die watersuiweringswerke saam met Dr. Mothamaha besoek.

‘n Kontrakteur is tans in die proses om die ‘opvangbakke,’ vanwaar die water na die gemeenskap gepomp word, skoon te maak. Die opgaardamme het egter ‘n dik laag afsaksels wat met die hand met emmers verwyder moet word. Ongelukkig is dit ‘n tydsame proses, is gesê.

AfriForum sê Ngwathe het verder onderneem om dringend aansoek te doen by Eskom om ‘n direkte kragtoevoerlyn na die waterwerke te lê sodat kragonderbrekings nie ‘n invloed op waterverskaffing sal hê nie. Die plaaslike AfriForum-tak sê hy sal die munisipaliteit hiermee bystaan.

Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, is daar uiteindelik kundige mense aan die stuur van die waterwerke, wat beteken dat die watersituasie op die dorp ten goede sal begin verander.
“Daar lê ‘n lang pad voor voordat Parys se waterprobleme ten volle opgelos is, maar vir die eerste keer kan die gemeenskap hoop op ‘n beter toekoms,” sê Burger.

Die munisipaliteit het tydens die vergadering daarop gewys dat hy besig is om die kostestudie wat by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) uitstaande is, op te stel.

Ander kwessies wat met relevante munisipale amptenare bespreek sal word, sluit in die herstel van laaghangende elektrisiteitskabels en die herstel van straatligte.

Hoewel AfriForum hoopvol is dat daar eindelik genoegsame aandag aan die diensleweringskwessies op Parys gegee gaan word, sê Corné Cronjé, bestuurder van gemeenskapstrukture by AfriForum, dat dit slegs suksesvol gedoen gaan word as die gemeenskap help om van dit ‘n sukses te maak.

Hy het ‘n beroep gedoen op mense om waterlekke en rioolstorting te rapporteer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button