Daar is vir lesers niks so lekker soos om ‘n boek in hulle hande vas te hou en die blaaie te voel nie. Daar is ook min reuke so lekker soos die blaaie van ‘n boek.
Met al die nuwe leestegnologie wat deesdae beskikbaar is, wonder mens of daar wel nog mense is wat boeke lees.
“Mens sal verbaas wees hoeveel mense nog boeke lees. As mense nie meer gelees het nie, was ek uit besigheid uit,” vertel René Meyer, eienaar van Die BoekStop in Parys.
René het sowat twee jaar gelede die BoekStop oopgemaak toe sy haar boekwinkel wat sy op die plaas gehad het, dorp toe geskuif het
“My pa het ‘n grootmaat, sowat 6000, Afrikana en Afrikaanse geskiedenisboeke gehad wat ek geërf het. Ek het met tyd fiksie en nie-fiksie boeke begin bykry.” René vertel sy is lief vir lees, maar kry deesdae nie veel tyd nie. “Baie mense wat lief is vir lees verkies dit om eerder ‘n boek vas te hou in plaas daarvan om elektronies te lees,” is haar ervaring.
Nog ‘n skatkis vir lesers van Parys is Die Kultuurkamer, ‘n uitsonderlike private biblioteek.
Hier kan lesers wat lid is van die biblioteek, boeke uitneem of sommer lekker in die lieflike koelte-tuin sit en lees.
Die Kultuurkamer verskaf die afgelope 13 jaar ‘n diens aan inwoners van Parys. Daar word gepoog om van die nuutste en onlangse boeke van sowel Afrikaanse as Engelse skrywers beskikbaar te maak aan lede.
Daar is boeke vir alle leessmake en ouderdomme, en daarom is Die Kultuurkamer die ideale bymekaarkomplek vir boekliefhebbers, of almal wat gou ‘n blaaskans wil vat.



