Flintstones slaag in hul doel by netbaldag
Die dag is vanjaar vir die derde jaar met groot sukses aangebied.

Die Flintstones het met die louere weggestap by die netbaldag wat Saterdag ten bate van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) op Hoërskool Parys se netbalbane aangebied is. Rhino Mix was tweede met Phoenix A in die derde plek.



Gemengde spanne kon vir die dag inskryf. Dertien spanne van Fochville, Frankfort, Parys en Vanderbijlpark het kragte gemeet.



Die plaaslike Rebel-span se Joanne Boonzaier en Jolanda Jansen van Vuuren het die voortou geneem met die reëlings. Die dag is vanjaar vir die derde jaar met groot sukses aangebied. Fondse wat ingesamel is, is ten bate van VVA se huis van veiligheid vir verwaarloosde en mishandelde kinders van Parys vir wie daar tans nie ‘n heenkome is nie. Daar moes vanjaar reeds meer as 30 kinders deur VVA weens omstandighede uit hul ouerhuise verwyder word.



