Groot verwagtinge vir Heilbron op die sportveld
Met die borgskap is daar ook teruggegee aan die gemeenskap.
Drie borge het vanjaar saamgespan om Hoërskool Heilbron op die sportveld te laat uitblink
Wintersportklere van die skool se sportspanne word vanjaar geborg deur David Cunningham van Greenspan in Frankfort, Mon Game Ranch, en United Steeds as hoofborg.
Die borgskap is moontlik gemaak danksy die inisiatief wat deur mnr. Jaco Mocke geneem is om die onderskeie rolspelers bymekaar te bring. Mocke het self ook ’n groot finansiële bydrae uit sy eie onderneming gemaak om die projek moontlik te maak, wat sy toewyding tot die skool en sy leerders verder onderstreep.

Mocke het die projek onder mnr. Gerrie Roos (Beheerliggaam van Sport) se aandag gebring, en sê Roos dat die beheerliggaam en skoolhoof dit baie waardeer wanneer ouers bydra tot die skool se sukses.
Verteenwoordigers van United Seeds, mnr. Ben Cilliers, verkoopsman in die omgewing, en mnr. Cobus Meintjes, hoof van bemarking en verkope in Afrika, het die skool onlangs besoek, en sê dit is ’n voorreg om Hoërskool Heilbron te ondersteun. “Wat besonders is, is om te sien hoe netjies en goed versorg die plattelandse skool is,” het hulle na afloop van die besoek gesê.

Hulle het verder beklemtoon dat die borgskap nie net oor sportklere gaan nie, maar oor teruggee aan ’n gemeenskap wat hulle oor jare ondersteun het. “Hier is baie boere wat ons in die Heilbron-omgewing ondersteun, en dit is vir ons belangrik om iets terug te ploeg in die gemeenskap,” het hulle bygevoeg.



