NewsNews

Hy wou hul net beskerm, seun wou nie luister

Hy wou hul net beskerm, seun wou nie luister “Dit was vir my ‘n bitter ding. Craig was nie ’n slegte mens nie. Hy was baie goed vir my. JR wou nie luister nie.” Met dié woorde het die 53-jarige Koen van Aswegen (sr.) Maandag die blaam vir die moord op sakeman Craig Marx in …

Hy wou hul net beskerm, seun wou nie luister
“Dit was vir my ‘n bitter ding. Craig was nie ’n slegte mens nie. Hy was baie goed vir my. JR wou nie luister nie.”
Met dié woorde het die 53-jarige Koen van Aswegen (sr.) Maandag die blaam vir die moord op sakeman Craig Marx in Desember 2014, vierkantig op die skouers van sy seun JR (22) en die ander jonger beskuldigdes, sy seun Nikolai (18), en een van Nikolai se voormalige skoolvriende, Dawid Kuyler (19), gepak.
Uitspraak word vanoggend gegee deur waarnemende regter Lani Opperman.
Marx is op 4 Desember 2014 onder valse voorwendsels na Kuyler se ouerhuis gelok waar hy aangerand en vasgebind is. Sy mond en oë is met kleefband toegedraai, waarna sy  bankkaart gevat en hy ook gedwing is om sy geheime pinkode te gee, Hy is daarna versmoor. Sy liggaam, toegedraai in plastiese sakke, is agterop sy bakkie gelaai en langs die Kopjeskraalpad in ’n stormwaterpyp versteek.  Geld is uit Marx se rekening onttrek,waarmee onder meer X-box’e gekoop is.
Die bakkie is later in die begraafplaas gekry. Marx se vriendin, Ella van der Schyff, is vir dae met selfoonboodskappe mislei om te glo dat Marx leef en in Bethlehem werk.
Van Aswegen (sr.) het in sy getuienis vandeesweek te kenne gegee dat daar nooit sprake was om Marx dood te maak nie. Volgens hom was die hele idee om Marx te beroof van die begin af “stupid” en moes hy nie sy ore daarvoor uitgeleen het nie.  Hy het voorsien dat dinge kon skeefloop en het juis saamgegaan om die “ander te beskerm”. Hy het aan die hof gesê dat hy ’n gawe het om met kinders te werk en só bygedra het tot Nikolai se sukses op skool en op die sportveld.
Hy het volgehou dat JR hardkoppig was en gedetermineerd was om Marx ’n les te leer omdat hy hom glo sleg behandel het. Daarom die plan om Marx ’n les te leer deur sy geld te steel.
Koen en JR het vroeër vir Marx instandhoudingswerk by die Smilin Thru vakansieoord gedoen.
Adv. Danie Pretorius vir die staat, het dit aan Van Aswegen (sr.) gestel dat hulle van die begin af geweet het dat as Marx bly leef, hy polisie toe sou gaan, en dat dit dan klaarpraat met hulle sou wees.
Hy het dit aan JR gestel dat die aanval op Marx tot in die fynste besonderhede beplan was en dat elkeen presies geweet het wat sy rol die dag sou wees. Terwyl Marx besig was om te sterf, is niks gedoen om hom te help nie en het hulle in die buit gedeel.
Twee dae na die moord het JR en Nikolai selfs nog gaan krieket speel en is JR die Sondag kerk toe.
JR wat in sy getuienis gesê het dat hy Marx ’n  les wou leer deur sy neus toe te druk terwyl hy met hom gepraat het, het volgehou dat hy Marx nie aspris doodgemaak het nie en nie weggehardloop het nie, maar later polisie toe wou gaan.
Die staat en die verdediging het Dinsdag hul slotbetoë gelewer.
Adv. Pieter Nel verteenwoordig Koen en JR, Danie Swanepoel tree namens Kuyler op en adv. Lentswe Setoutou vir Nikolai.
* ’n Vriend van Nikolai en Dawid, André Kruger (18) het in gevolge ’n pleitooreenkoms vroeër vir die staat getuig.
Dit was ook hy wat op 18 Desember die plek aan die polisie gewys het waar Marx se liggaam versteek was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button