‘n Brood vir hulle in nood
Wanneer dit winter is, is jy geneig om ekstra honger te wees. Veral saans wanneer dit koud en donker word.

Wanneer dit winter is, is jy geneig om ekstra honger te wees. Veral saans wanneer dit koud en donker word.
Ons hoef nie ver te gaan soek om nood en ellende te sien nie. In ons eie dorp is die nood by die dag groter. Hoe bitter moet dit nie wees om ’n kind honger bed toe te stuur nie, of sonder ontbyt skool toe nie? En tog is selfs net ’n brood wat vir baie van ons dalk geen luukse is nie, onbekostigbaar vir die talle wat nie het nie.
Dit is waarom Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) Jaarliks die Broodjiedag-projek aanbied. Vanjaar is broodjiedag op Vrydag 29 Julie.
Op hierdie dag word gepoog om ten minste seker te maak dat daar in elke huis ’n brood sal wees.
Daarom vra VVA, dat almal wat kan, asseblief op Broodjiedag ’n brood, broodrolletjies of selfs nie-bederfbare voedsel sal skenk. Dit sal ’n groot verskil maak waar daar nood is.
Die brode of ander nie-bederfbare skenkings kan by VVA se kantoor in Buitenstraat afgegee word. Kom ons maak ’n verskil in ons gemeenskappe.



