
‘n Avontuur-naweek soos nog nooit tevore wag van 24 tot 26 Februarie op avontuur- en buitelewe liefhebbers.
Die geleentheid, All Things Adventure, beloof om ’n droom vir avontuurlustiges te wees – nie net om die nuutste in buitelewe ervaring te sien nie, maar ook om van die toerusting te toets en deel te neem aan aktiwiteite!
Dit vind plaas by Stonehenge in Africa langs die Vaalrivier in die Koepel bewaringsgebied en is slegs ’n hanetree van Parys en sowat ‘n halfuur vanaf Potchefstroom en sowat 45 minute na ʼn uur van die Vaaldriehoek-omgewing.
Die 4×4-baan op Stonehenge gaan veral vol bedrywighede wees.
Die bekende Danie du Preez van IPS 4×4 Outdoor Adventure Store is in beheer van dié baan, waar daar ook kompetisies vir 4×4-eienaars gaan plaasvind. Teen ’n geringe fooi sal dié voertuig-eienaars op die baan kan ry en aan kompetisies deelneem. Danie sal deurentyd beskikbaar wees om tegniese advies te gee.
Handelaars van die meeste bekende nuwe 4×4 voertuie is deel van die uitstallers en kry ook geleentheid om beurtelings hulle voertuie op die baan te demonstreer.
’n Lekker interessante kompetisie wag ook vir manne en vroue wat hulle bestuursvernuf wil wys. Vir ’n lekker prys gaan gekyk word wie die beste met ’n sleepwaentjie in trurat kan bestuur!
Deel van die naweek is die Woema Challenge, aangebied deur die bekende Theunis Nel.
Dit is ’n kompetisie vir 600cc avontuur motorfietsryers om natuurlik die beste ryer te bepaal. ’n Reuse prysgeld van R50 000 is op die spel. Vir meer besonderhede besoek hul webtuiste www.woema.org of kontak Theunis by theunis@woema.co.za
’n Spesiale motorfietsbaan is op die terrein van Stonehenge vir dié doel gebou.
Behalwe die kompetisie-deelnemers sal ander ryers ook geleentheid hê om op die baan te ry en sommer op die koop toe advies van ervare ryers kan kry.
Verskeie motorfietshandelaars het reeds te kenne gegee dat hulle by die geleentheid gaan uitstal.
’n Ander groot verrassing is talle mesmakers wat hulle ware kom wys en hulle gaan ook wys hoe van die messe gemaak word.
Deel van die aktiwiteite is die bekende “Kids Warrior Race” waaraan skoolkinders kan deelneem.
Van die ander baie uitstallers is onder meer verfbaltoerusting en -toetsbaan waar mens prakties kan gaan skiet en dieselfde vir boogskiet-entoesiaste. Daar word ook duiktoerusting uitgestal en een van die uitstallers gaan ʼn duiktenk oprig. Die eienaars van veteraanmotors gaan ’n spesiale plek hê waar hulle hul pronkstukke kom wys.
Benewens tente en ander kampeertoerusting gaan boothandelaars hulle ware uitstal en daar is geleentheid vir witwaterroei op die Vaalrivier.
Talle kosstalletjies met ʼn baie groot verskeidenheid is op die terrein en daar is ook speelplek vir die kinders. Kom luister na die musiek van onder meer Henk Grimsell by die musiekverhoog op die walle van die Vaalrivier.
Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Dagboek nou reeds die datums! Toegang vir die Vrydag beloop R40, Saterdag R80 en Sondag R60. ’n Naweekpakket kos R120. Kinders o.6 is gratis, kinders o.18 kry 50 persent afslag en vir studente en pensioenarisse kos dit Vrydag R30, Saterdag R40 en Sondag R50. Kaartjies is reeds by Computicket te koop.
Uitstallers moet spring vir plek. Skakel Antoinette Badenhorst by (018) 293 0750.
Verblyf is beskikbaar by Stonehenge of in die omgewing. Skakel Lizanne by 072 616 1263 of (056) 811 4669 vir nadere besonderhede.


