Eskom-krisis: Trae amptenare aangespreek
“Trae amptenare” is verlede Donderdag skerp gekritiseer op ’n vergadering van burgemeester Joey Mochela se nuwe taakspan oor die Eskomskuld. Die taakspan, soos vroeër berig (Gazette, 12 Januarie), bestaan uit vier senior ANC-raadslede, asook raadslede Arnold Schoonwinkel (DA), Bakwena Thene (EFF), en Phillip van der Merwe (VF+), onder leiding van die burgemeester.
“Trae amptenare” is verlede Donderdag skerp gekritiseer op ’n vergadering van burgemeester Joey Mochela se nuwe taakspan oor die Eskomskuld. Die taakspan, soos vroeër berig (Gazette, 12 Januarie), bestaan uit vier senior ANC-raadslede, asook raadslede Arnold Schoonwinkel (DA), Bakwena Thene (EFF), en Phillip van der Merwe (VF+), onder leiding van die burgemeester.
Die taakspan vervul tans ’n oorsigrol oor die onderhandelinge, wat daartoe mag lei dat Eskom die verspreiding en verkope van elektrisiteit van die Ngwathe munisipaliteit oorneem. Die vergadering is byna ’n kwartier vertraag omdat nie een van Ngwathe se senior amptenare betyds was nie. Toe die amptenare instap, het burgemeester Mochela op ’n verduideliking aangedring. Die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Tsekedi, het gesê dat hy en sy amptenare na ’n verkeerde lokaal gegaan het. Die burgemeester het hierdie verontskuldiging summier verwerp en gesê sy het minute vóór die vergadering die korrekte lokaal aan mnr Tsekedi bevestig. “All councillors were on time. Why can’t officials be on time too?” het sy gevra.
Me. Samyala, die hoof finansiële beampte, het selfs later, ’n halfuur laat, opgedaag. Rdl. Phillip van der Merwe het daarop gewys dat sy dikwels, en sonder verduideliking, laat is vir vergaderings.
Raadslede het ook sterk kapsie gemaak daarteen dat dokumente wat hulle moes bespreek, nie vooraf afgelewer is nie. “Dit is selfs nou nog nie beskikbaar nie en dit maak sinvolle besluite haas onmoontlik,” het rdl. Van der Merwe gesê. Hy is sterk ondersteun deur die burgemeester en rdl. Arnold Schoonwinkel. Die taakspan het daarop eenparig besluit om die pligsversuim van amptenare by die eerste moontlike geleentheid aan die volle Raad te rapporteer.
Die taakspan het ook aanbeveel dat die munisipale bestuurder, in samewerking met die taakspan, die oordra van elektrisiteitsverspreiding in Ngwathe aan Eskom, verder ondersoek, voorstelle daaroor met Eskom beding, en intussen ‘n redelike betaalplan aan Eskom formuleer. Die Raad het hierdie aanbevelings kort daarna goedgekeur. “Vrydag is dit aan Eskom voorgelê, en blykbaar aanvaar,” aldus rdl. Van der Merwe.
* Hierdeur word gehoop dat die daaglikse afsny van krag na Ngwathe tussen sekere ure vanaf 7 Februarie hopelik vermy kan word, hoewel Eskom teen Gazette se druktyd nog geen bevestiging hiervoor wou gee nie. Die verwagting is dat Eskom eers einde Januarie sy finale besluit bekend sal maak, is vandeesweek aan Gazette gesê.



