
Lieder van Wene: 22 Januarie om 15:00 in die Etienne Rousseau-teater, Sasolburg
Die internasionaal bekende Hollandse tenoor en deskundige in Histories Ingeligte Uitvoeringspraktyk, Marcel Beekman, besoek Suid-Afrika in Januarie vir die tweede keer.
In Julie 2015 het Beekman ’n Vroeë Musiek-projek gelei, aangebied deur die Koepel Kuns-tesentrum, saam met die Amsterdamse barokvioliste Antoinette Lohmann. Lohmann is ’n gereelde besoeker aan die land en dra grootliks by tot die vestiging van Vroeë Musiek in Suid-Afrika.
Beekman sal sangmeestersklasse aanbied asook die kamerkoor, Fons Partita, by die kuns-tesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel Wêrelderfenisgebied, afrig ter voorbereiding van die eerste uitvoering in Suid-Afrika van Mozart se Requiem op historiese instrumente in Maart en April 2017.
Met die Suid-Afrikaanse klawerborddes-kundige in Vroeë Musiek, John Reid Coulter, as begeleier, bied Beekman twee liederuitvoerings met werke van Haydn, Mozart en Schubert aan. Coulter speel op ‘n moderne kopie van die oorspronklike Mozartklavier (fortepiano). Die uitvoerings vind plaas op 21 Januarie in Pretoria, en op 22 Januarie om 15:00 Lieder van Wene in die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg.
Die program bevat die gewildste lieder van Mozart en Haydn, uittreksels uit die Seisoene en die Skepping, sowel as ’n keuse uit Schubert se Winterreise.
Sedert 2008 bied die Koepel Kunstesentrum musiekkursusse, meestersklasse, en konsertprojekte aan, met die doel om histories ingeligte uitvoeringspraktyk in Suid-Afrika te ondersteun en uit te bou.
Talle vooraanstaande musici uit Europa, op die voorfront van die Vroeë Musiek-beweging, het reeds met Suid-Afrikaanse musici saamgewerk om stadig maar seker die beweging ook hier te vestig. Onlangse konserte sluit uitvoerings in Pretoria en Sasolburg van werke van die barokkomponis Heinrich Schütz, onder leiding van die Weense dirigent Norbert Brandauer, asook die eerste uitvoering van die welbekende Johannespassie van Johann Sebastian Bach op historiese instrumente in Johannesburg voor Paasfees 2016 in.
Beekman, wat internasionaal lof ontvang het vir sy vertolking van operarolle uit die Barok- en Klassieke tydperke, is veral ook bekend as evangelis in Bach se oratoria en passies. Hy is ’n veelsydige sanger, ewe tuis in die Lieder-repertoire as in die hedendaagse musiekliteratuur.
Laasgenoemde word bevestig deur verskeie moderne komponiste wat spesifiek vir sy stem gekomponeer het. In die komende konserte kan die Suid-Afrikaanse konsertpubliek uitsien na sensitiewe, opruiende en meesleurende uitvoerings van hierdie klassieke liedere van Wene, vervul met sy diep insig in die musikale uitvoeringsideale van daardie tyd, en ondersteun deur die delikate begeleiding van Coulter se forte-piano.
Vir navrae skakel Gerhard Benade by 083 280 9784 of stuur e-pos na gerhard@deelfontein.co.za Besoek ook die webtuiste www.deelfontein.co.za



