Eikelaan kan gered word as Potchefstromers saamstaan
Sowat 312 eikebome in Potchefstroom is siek of dood. Dit is amper die helfte van die getal bome wat oorspronklik as deel van die Eikelaan bestaan. ‘n Eikeboom op die Bult. Die plaveisel is sodanig dat daar net ‘n meter se oop spasie vir reënwater is. Foto: Marianke Saayman Sowat 312 eikebome in Potchefstroom is …
Sowat 312 eikebome in Potchefstroom is siek of dood. Dit is amper die helfte van die getal bome wat oorspronklik as deel van die Eikelaan bestaan.
ʼn Groep honneursstudente aan die skool vir Forensiese Rekeningkunde, wat verlede maand die bome getel het, het bevind dat uit die 747 bome wat deel maak van die Eikelaan, 152 siek is, 24 dood is en 136 reeds uitgehaal is omdat hulle siek of dood was. Daar is ook om 26 van hierdie bome plaveisel en om 18 is daar teer, wat veroorsaak dat die bome nie genoeg reënwater kry nie.
Hierdie kwessie is tydens ’n vergadering op Donderdag 15 Februarie deur verskeie
belanghebbendes bespreek om te probeer vasstel hoe hierdie geskiedkundige gedenkwaardigheid gered kan word. By die vergadering het verskeie kenners hul bevindings gedeel.
Prof. Sarel Cilliers van die NWU se Botaniese Tuine het die ernstige toestand van die bome uitgelig. In 1995 het verskeie wetenskaplikes ʼn studie oor die eikebome in Potchefstroom gedoen om te probeer vasstel waarom hulle besig is om dood te gaan.
Dit kom daarop neer dat die bome reeds vir die afgelope sowat 45 jaar onnatuurlike waterstres ervaar. Die hoofredes hiervoor is omdat die munisipaliteit in 1972 die watervore waarlangs die bome geplant is, toegemaak het, en ook omdat reënwater nie by die bome se wortels uitkom nie, as gevolg van plaveisel – die water loop eerder in stormwaterpype in, en die eikebome kry nie ʼn druppel daarvan nie.
Volgens Cilliers is grootskaalse ontwikkeling op die Bult besig om die bome dood te maak. Sommige van die bome het plaveisel rondom wat tot net ʼn meter van die boom se stam strek. Dit veroorsaak dat daar amper geen reën op die grond onder die bome val nie, want alles val op die plaveisel.
Saam met die watertekort kom dopluise ook wat veroorsaak dat die bome se blare laat of selfs glad nie afval om plek te maak vir nuwe blare nie – dit los die Eikelaan met misvormde, bosserige bome met dooie punte.
Cilliers stel voor dat daar weer gekyk moet word na die voorstelle wat in 1995 gemaak is om die bome te probeer red. Van hierdie voorstelle is dat die watervore weer teruggebring moet word, of dat daar ten minste ʼn besproeiingstelsel geïnstalleer moet word. Nog voorstelle is dat daar geen parkeerareas onder bome plavei mag word nie en dat opritte van wonings net 3 meter breed mag wees, sodat daar genoeg spasie tussen-in is vir reënwater om opgevang te word. Alhoewel nie al hierdie voorstelle vandag moontlik is nie, is daar aan van hulle nog nooit geraak nie, en kan dit as afskoppunt vir die Eikelaan projek dien.
Lennie Gouws van Erfenis Potchefstroom meen dat besighede in Potchefstroom wat hulself na die Eikelaan vernoem of die woord “Akker”, “Eike” of “Oak” in hul naam het, veral verantwoordelik behoort te wees vir die bewusmaking van die Eikelaan. “Dit is tyd dat hierdie besighede pa staan vir die naam wat julle gekies het!” sê sy.
Gouws wil ook besighede en ontwikkelaars teen die Eikelaan aanmoedig om deel te wees van die oplossing deur nie te plavei onder die bome nie.
“Die bome is ʼn refleksie van hoe Potchefstroom sy geskiedenis hanteer. Ons glo nie dat die bome net die verantwoordelikheid is van die Stadsraad of Erfenis nie, maar dis die verantwoordelikheid van elke persoon wat hier woon.” Op Donderdag 23 Februarie, het ’n tweede vergadering plaasgevind waar Gouws as leier van die Eikelaan-komitee aangewys is. Hulle het beplan om in daardie week die stadsraad te besoek en ook om die Parke-afdeling by die projek te betrek.
Vir meer inligting skakel Lennie Gouws by 083 423 0394.