‘My tiener haat my’ – hoe nou?
Onder die woede wat hulle wys kan daar angs, teleurstelling, verleentheid, of bloot ’n behoefte aan nog onafhanklikheid wees
Daar is min dinge wat ’n ouerhart so seer kan maak soos konflik met ’n kind. Die tienerjare kan vól konflik wees soos wat jou spruit van ’n oulike laerskoolkind in ’n tiener vol storm en drang verander.
Sigi Graham, ’n voorligtingsielkundige van die Child Behaviour Centre in Pretoria met meer as 20 jaar ervaring, sê ouers moet tydens konflik onthou dat die tiener se woorde nie regtig oor die ouer gaan nie. “Dit is gewoonlik ’n teken dat die tiener oorweldig voel en nog nie die vaardigheid het om te verwoord wat werklik aangaan nie. Onder die woede wat hulle wys kan daar angs, teleurstelling, verleentheid, of bloot ’n behoefte aan nog onafhanklikheid wees.”
Jonathan Hoffenberg van The Parent Centre in Kaapstad sê as jou tiener in ’n oomblik van konflik iets sê soos ‘ek haat jou’ moet ouers daarop fokus om nie verwerp te voel nie.
“Dink só daaraan: Jou kind het ’n dekade lank ’n identiteit gebou met jou as die argitek. Dan tref puberteit, en nou moet hy sy eie weergawe begin bou. Om jou weg te stoot, is eintlik deel van gesonde ontwikkeling. Onder ‘ek haat jou’ lê gewoonlik die boodskap: ‘Ek is oorweldig, ek kan dit nie verduidelik nie, en jy is veilig genoeg dat ek dit alles op jou kan uithaal.’ Daardie laaste deel is die kompliment wat jy dalk nie hoor nie.”
Boonop is dit baie normaal dat kinders tydens hul tienerjare geïrriteerd met hulle ouers raak. “Vanuit ’n ontwikkelingsperspektief probeer adolessente uitvind wie hulle as individue, afsonderlik van hul ouers, is. Dit beteken dat hulle hulself dalk ’n bietjie onttrek, meer tyd saam met vriende deurbring, meer privaatheid wil hê of sterker menings begin uitspreek. Dit beteken nie dat die verhouding verbrokkel het nie. Baie tieners wat só optree, steun steeds sterk op hul ouers vir emosionele veiligheid, hulle gaan dit net nie altyd erken nie!” sê Sigi.
Die uitdaging vir ouers tydens dié intense jare, is om te weet wat om ernstig op te neem, en wat nie. Oë wat rol, ’n grom in plaas van ’n antwoord, ’n deur wat toegeklap word en uitbarstings soos “julle verstaan my nie” en ’n skielike, onverklaarbare afkeur van alles waarvan die res van die gesin hou, hoef nie ernstig opgeneem te word nie, sê Jonathan.
“Neem wel die volgende ernstig op: onttrekking wat verder gaan as buierigheid en oorgaan in ’n werklik vreugdelose toestand; die weggee van kosbare besittings; skielike veranderinge in eet- of slaappatrone wat weke aanhou; uitsprake oor hopeloosheid of dat hulle ’n las is; of enige direkte of indirekte verwysing daarna dat hulle nie meer hier wil wees nie. Die verskil lê in die erns en mate waarin die gedrag afwyk van hul eie normale funksionering. Veranderinge in slaap, eetgewoontes, groot gedragskommelinge of ’n skielike verwerping van alles waarvoor hulle voorheen omgegee het, is waarskuwingstekens.”
Die vraag is natuurlik, hoe moet jy reageer in daardie oomblik van konflik?
Sigi verduidelik die belangrikste is om kalm te bly en nie vuur met vuur te beveg nie. “Dit is baie aanloklik om woede met woede te beantwoord, maar dit laat die situasie gewoonlik net verder eskaleer. ’n Kalm reaksie soos: ‘Ek kan sien jy is ontsteld, maar ek is nie gemaklik daarmee dat jy so met my praat nie. Kom ons praat wanneer ons albei afgekoel het,’ stel ’n grens sonder om nog ’n stryd te skep. Moet ook nie die waarde van humor onderskat nie. Nie sarkasme of om met hulle die spot te dryf nie, maar ligte humor wat almal help om weer asem te haal. Soms kan ’n lawwe opmerking of ’n gedeelde grappie die hele atmosfeer verander. Dit herinner hulle daaraan dat julle verhouding groter is as die argument wat julle op daardie oomblik het.”
Jonathan het ’n boodskap van hoop vir ouers wat midde-in die stormagtige tienerjare is. “Jou taak is nie om ’n volmaakte tiener groot te maak nie. Dit is om ’n ordentlike volwassene groot te maak wat weet dat hulle huis toe kan kom.
Elke ongemaklike aandete waarop jy aandring, elke deur wat jy oop laat nadat dit toegeklap is, en elke ‘ek is lief vir jou’ wat net met ’n knor beantwoord word, herinner jou dat dit alles iewers insink. Hulle luister, selfs wanneer dit nie so lyk nie. Toekomsvisie is belangrik. Die persoon wat in hul twintigs te voorskyn kom, indien julle die verhouding deur die chaos lewend gehou het, kan een van die merkwaardigste mense wees wat jy ooit sal ken.”
Praktiese wenke vir konneksie met jou moeilike tiener
- Fokus op klein, konsekwente daaglikse oomblikke eerder as groot gebare. “Spandeer elke dag ’n paar minute saam sonder ’n spesifieke agenda. Wys belangstelling in die dinge waarin hulle belangstel, selfs al verstaan jy dit nie heeltemal nie. Fokus op die dinge wat hulle goed doen, respekteer hul groeiende onafhanklikheid, maar bly beskikbaar,” sê Sigi.
- Beskerm gesinsrituele doelbewus, soos om saam te eet. Probeer ook ’n gedeelde gesinsaktiwiteit oor naweke instel, soos bordspeletjies, saam lees of ’n fliek kyk. “Oorweeg ’n reël dat selfone nie snags in slaapkamers gelaai mag word nie, en ja, dit sluit joune ook in. Dit is een van die toestelgewoontes wat die grootste verskil in baie gesinne maak,” is Jonathan se raad.
- Moet nooit ophou om hulle saam te nooi na gesins- of familie-aktiwiteite nie, selfs al is hulle onwillig. Hulle rol dalk elke keer hul oë wanneer jy hulle vra om saam te eet of aan ’n gesinsuitstappie deel te neem, maar dit maak werklik saak dat hulle weet hulle is steeds welkom en ingesluit, verduidelik Sigi.
- Vind geleenthede waar julle langs mekaar werk. Bied aan om hom met iets te help, of vra hom om jou met iets te help. Werk skep gesprekke wat dikwels nie plaasvind wanneer twee mense formeel teenoor mekaar sit nie. “Onthou dat konneksie tyd en moeite vereis. Jou tiener vertrou jou dalk nie aanvanklik nie en kan dink jy doen dit maar net omdat jy voel jy moet. Jy sal moet wys dat jy opreg is en werklik omgee,” beklemtoon Jonathan.
As jy bekommerd is oor jou kind se gemoedstoestand, vertrou jou instink en moenie wag nie – jy ken jou kind. In Suid-Afrika kan ouers SADAG by 0800 456 789 of Childline by 116 kontak, of hul skoolberader as eerste kontakpunt nader.




