NewsNews

We Care gaan voort: Beter samewerking en kommunikasie tussen polisielede en patrolleerders nodig

Die We Care vrywilligergroep wat vir die afgelope drie jaar ’n merkwaardige bydrae in die Parys-gemeenskap gelewer het, sal nou onder leiding van Wynand en Dorette Nel voortgaan, onder dieselfde naam en met dieselfde bankbesonderhede. Dit volg ná ’n vergadering met die polisie Maandagoggend waar Ryno Lindeque sy uittrede aangekondig het. Die vergadering was juis …

Die We Care vrywilligergroep wat vir die afgelope drie jaar ’n merkwaardige bydrae in die Parys-gemeenskap gelewer het, sal nou onder leiding van Wynand en Dorette Nel voortgaan, onder dieselfde naam en met dieselfde bankbesonderhede. Dit volg ná ’n vergadering met die polisie Maandagoggend waar Ryno Lindeque sy uittrede aangekondig het.
Die vergadering was juis gehou om die rol en funksie van die polisie en die patrolleerders te bespreek ten opsigte van klagtes en misdaadtonele wat bygewoon word, spesifiek ná ’n voorval die afgelope naweek toe ’n  lid van die publiek die We Care-groep in kennis gestel het van mense wat sand in die ou begraafplaas steel.
Die diefstal van die sand is vir ’n geruime tyd reeds ’n probleem. Daar was tydens die voorval groot ongelukkigheid oor die polisie se hantering van die saak nadat daar nie ’n klag gelê is nie, asook die munisipale bestuur se totale gebrek aan belangstelling om die probleem die hok te slaan.
Dit ten spyte daarvan dat daar ’n duidelike kennisgewingbord is wat die verwydering van die sand uit die begraafplaas verbied en sê dat oortreders vervolg sal word.
Die polisie het met die vergadering dit duidelik gestel dat alle klagtes van die publiek by die polisie gerapporteer, en deur die polisie hanteer moet word. Verder is gesê dat die patrolleerders se funksie is om tonele te bewaar en te beveilig tot die toneel aan die polisie oorhandig kan word.
Uit die vergadering was dit duidelik dat daar gebrekkige  kommunikasie tussen die polisie en die patrolleerders is wat tot konflik en misverstande lei.
Terwyl patrolleerders voel dat hulle nie samewerking van die polisie kry nie, en alle polisiebeamptes nie op hoogte is van die taak en rol wat volgens GPF-strukture en bepaalde riglyne aan patrolleerders gegee word nie, is ’n ernstige beroep tydens die vergadering ook  op die publiek gedoen om nie die beeld van die polisie en die rol wat die polisie in ’n  gemeenskap speel, af te breek nie.
Die polisie het met heelwat uitdagings te kampe met té min lede en voertuie. Dit het die gevolg dat klagtes nie altyd dadelik aandag kan geniet nie. Dit is juis hier waar die patrolleerders van die We Care-groep die polisie se hande oor die afgelope drie jaar gesterk het.
Voorstelle is gemaak dat alle skofbevelvoerders behoorlik ingelig moet word oor die rol van die patrolleerders en dat daar daaglikse kommunikasie tussen vrywilligers wat patrolleer, en die polisiebeamptes aan diens moet wees vir beter samewerking, en om misdaadpatrone en inligting wedersyds deur te gee.
Mense wat klagtes het teen polisiebeamptes wat versuim om hul plig uit te voer of nie korrek optree nie, kan hul klagtes aan die bestuur van Parys-polisiestasie rapporteer sodat opgetree kan word teen polisielede wat nie hul pligte nakom nie. Die hoop is nou dat daar in die toekoms ’n houdingsverandering sal wees en meer aandag gegee sal word aan samewerking en kommunikasie tussen die twee partye, sodat elkeen toegelaat sal word om hul spesifieke rol en funksie te kan vervul in belang van die gemeenskap en veiligheid.
Die boodskap was baie duidelik – die Parys-gemeenskap sal groot skade aangedoen word as daar nie patrolleerders is wat op eie koste en in hul eie tyd die opoffering maak om te help om die oë en ore van die gemeenskap te wees nie, soos wat die afgelope drie jaar al gedoen is. Maar terselfdertyd moet mense ook verstaan dat vrywilligers nie die taak van die polisie kan oorneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button