Parys praat KUNS
Vir drie weke aaneen gaan Parysenaars en besoekers aan die dorp kuns praat. Dit wanneer die dorp eersdaags sy eerste kunstefees hou van 29 Maart tot 15 April. Van fotografie tot dans, kuns in elke denkbare vorm, ’n jolige straatpartytjie, kuns in die park langs die Vaalrivier-oewer, ’n verskeidenheid van vertonings, ‘n kunsroete vir die …
Vir drie weke aaneen gaan Parysenaars en besoekers aan die dorp kuns praat. Dit wanneer die dorp eersdaags sy eerste kunstefees hou van 29 Maart tot 15 April.
Van fotografie tot dans, kuns in elke denkbare vorm, ’n jolige straatpartytjie, kuns in die park langs die Vaalrivier-oewer, ’n verskeidenheid van vertonings, ‘n kunsroete vir die viervoete, “colour run” en selfs slaggat-kleur is deel van die kunsbeleef-spyskaart wat reg sal laat geskied aan die naam wat Parys het as kunstenaars-mekka.
Die fees open amptelik op 29 Maart om 18:00 by Egweni met van Gumboot-dansers en ’n marimba-orkes, tot opera-sang en die Chris van Niekerk-strykers. ’n Wye verskeidenheid kulture saam onder een kunssambreel met kaas-en-wyn.
Saterdag 30 Maart is die fokus op die kinders met onder meer sang, gesigverf, maskermaak, pottebakkerswerk, skilder en verf. Die prysuitdeling vir die hoër- en laerskool kunskompetisie sal dan ook plaasvind.
Elke Saterdag kan jy toer deur Parys met ’n heerlike “Safari Supper” aangebied deur Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum.
Op 31 Maart is die 3 Reisigers, Dana Snyman, Johan Badenhorst en Johan Bakkes in die dorp vir ’n gesellige vertoning saam met Gert Vlok Nel.
Paas Maandag 2 April het feesgangers geleentheid vir ’n uitstappie saam met jou viervoet vriend met honde-bederfies wanneer daar gestap word om 8:00 in groepe vanaf The Garden (Middelstraat 8). Daar is bakke met dierevriendelike verf waarmee die dorp se sypaadjies letterlik rooi (en blou, en groen) geverf gaan word. Alle “kunstenaars” moet aan ‘n leiband wees. Daar is verversingspunte met water en spesiale hondelekkernye, geborg deur La Oma slaghuis. Die stap eindig weer by The Garden met ‘n mega kunswerk en ‘n “pool party” vir die honde om in af te spoel voor hulle huis toe gaan.
Inskrywingsgeld beloop R57.50 aanlyn by ParysArtsFestival.co.za, of as jy kontant wil betaal slegs R50. Jy kan jou kaartjies gaan afhaal by die Parys Info kantoor. Winste gaan vir die Parys DBV.
Op Donderdag 5 en 12 April bied Marina Welsh, bekende beeldhouer van Johannesburg ’n Figuur Werkswinkel aan. Elkeen wat die geleentheid bywoon sal ’n eie figuurstudie kan huistoe neem.
En as jy iets aan die slaggate wil doen, kom verf saam die meer gat as pad in neon elke Vrydagaand saam met Epilepsie Suid-Afrika wat die kaartjies vir die Neon Pothole Painting verkoop.
Op Saterdag 7 April word daar hande gevat met die Hartelus Mark vir ’n “Art on the Banks” geleentheid. Daar is nog stalletjies beskikbaar vir kunstenaars, handwerk, juwele, klere – enigiets met ’n kuns aanslag sal voorkeur geniet bo ander aansoeke.
Die dag word afgesluit met ’n Art Explosion soortgelyk aan ’n “colour run” en skuimpartytjie later die middag vanaf 16:00.
Dan word daar ook nog ‘n straatpartytjie beplan vir Saterdag 14 April en is daar verskeie vertonings en optredes. Hieronder tel die optrede van Wasgoedlyn (7 April), The Classic Wave (13 April), You Suck en ander Afgryslike Waarhede (14 April), Terug na Donkiespad: Geskoei op verhale van dr. Con de Villiers (14 April) en ’n Paaskantate (15 April).
Kunstenaars kan gerus ook die ARTChair projek ondersteun waarmee jy op jou unieke wyse ’n stoel kan opdoilie, verf of verfraai. Die stoele sal opgeveil word ten bate van verdienstelike organisasies.
Om te help om die fees te befonds sal loo-tjiekaartjies verkoop word waarmee ’n vakansie ter waarde van R8 500 in die Drakensberge gewen kan word. Maak seker jy kry jou kaar-tjie.
Vir meer inligting oor die Parys Kunstefees hou die Parys Arts Festival Facebook-blad dop, of gaan na die webwerf www.parysartsfestival.co.za, of skakel 083 409 9041 vir meer inligting oor die feesprogram en kaartjies.





